WP-liga: Goue Bekerspan kom sy tier teë

Een van die Westelike Provinse se twee spanne in die afgelope Goue Bekerreeks het sy tier teëgekom in die jongste ronde van die bond se Superliga A.

Durbanville-Bellville, wat die Goue Beker in 2015 ingepalm het, en verlede jaar in die halfeindronde net met 35-41 deur die finalis Valsbaai uitgeskakel is, kon dusver dié seisoen nog nie een van sy drie kragmetings wen nie.

Tygerberg het hom Saterdag met 37-25 getroef.

Stanton Lesch, die wedstrydsekretaris van Tygerberg, sê die wenspan het weereens voor, veral met sy vaste vyf, oorheers.

“Rotsvaste verdediging en ʼn goed gestruktureerde wedstrydplan het verder tot die oorwinning bygedra.”

“Die grootste uitblinkers sluit Alroy Brandt, Deon Taljaard, Tyron Scholtz en die vaste vyf, Eesaa Maker, Shameegh Allen, Christo van Wyk, Marvin Fransman en Keegan May, in.

“Die stewige grondslag wat die voorspelers gelê het, het genoeg goeie voorvoetballe aan die agterlyn besorg om munt daaruit te slaan.

Alroy Brandt (twee); Errol Jaggers en Whalied Heyns het die Tiere se drieë gedruk. Deon Taljaard het al vier verdoel en met drie strafdoele geslaag.

Lesch sê die vertoning was ʼn geringe verbetering op die span se eerste ligawedstryd, maar hy het te lank gevat om sy voete binne die gewone wedstrydplan te vind.

“Tygerberg sal sy strukturele spel opskerp namate die seisoen vorder, en meer geleenthede van gehalte vir die jong, opwindende agterlyn skep.”

Hy sê Durbell het met drie wedstryde agter die blad aanvanklik beter voorbereid gelyk.

“Die groot getalle Tiere-ondersteuners wat op Durbanville toegesak het, het dit weereens vir die besoekende span in ʼn tuiste weg van die huis af omskep.”

♦ Bronson Weir, die hoofafrigter van Belhar, het laat weet dat sy span verras het deur naelskraap met 34-33 met die Victoriane af te reken.

Belhar se tweede span het eweneens met 22-13 teen die Stellenbosse studente gewen, maar die Victoriane se derde span het met 38-5 en die o.20-span met 14-13 gewen.

Superliga C

♦ Regan Marcus, die hulpafrigter van Scottsdene-Sentraal sê `n wedstryd tussen sy klub en Elsies River United bly maar altyd ʼn riller, en waar Elsies die vorige twee kragmetings gewen het, het Scottsdene dié keer op sy tuisveld die bordjies verhang en met 39-13 geseëvier.

“Die span van Elsies het begeesterd begin en ons verdediging kwaai beproef. Hulle kon egter net drie punte kry in die 15 minute wat hulle op Scottsdene se doellyn geboer het,

“Scottsdene se puik vaste fasette het ʼn goeie platform vir aanvallende rugby geskep. Die klub is bekend vir sy hardlooprugby, en daarvan was daar oorgenoeg.”

Marcus sê Enro Bosch (flank), Selvin Ernstzen (slot), Leroy Ruiters (losskakel) en Ashwin Dube (heelagter) was die tuisspan se uitblinkers. Veral Ernstzen en Bosch het met hul inklimspel en verdediging beïndruk, terwyl Ruiters en Dube op die aanval Elsies hoofbrekens besorg het.

Ruiters het 19 van die wenspan se punte met ʼn drie, vier doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Ruben Fanford, Bosch, Rowen Abrahams en Dube het die ander drieë gedruk.

Scottsdene se volgende ligawedstryd is teen Langa op die Langa-sportterrein.

♦ Hester Hale, die sekretaresse van Goodwood, laat weet die klub se eerste span het met 27-27 gelykop teen Strand United gespeel.

Die derde span het met 17-10 gewen, maar die tweede het naelskraap met 14-15 en die o.20-span met 11-12 verloor.

Suiderliga

♦ In die Suiderliga het Titans van Grassy Park verras deur 14-14 met die voorloper, Rocklands, gelykop te speel. Elk van die spanne het twee verdoelde drieë op die telbord geplaas.

Saliem Ishmael, die seketaris van Titans, sê dit was ʼn naelskraapse affêre waar Titans so byna met die laaste skop van die wedstryd gewen het, ʼn strafskop feitlik van die middellyn af, wat rakelings onder die dwarslat deurgeseil het.

“Rocklands het die voortou met ʼn drie net voor rustyd geneem, en ná rustyd het Titans twee keer gaan druk. Rocklands dit met vyf minute oor gelykop gemaak.”

Fazli Nur Mohamed en Sadiq Tassiem het Titans se drieë gedruk, en laasgenoemde het albei verdoel.

Ander uitslae –

Superliga A

Brackenfell 27, UWK 20; Schotschekloof Walmers 38, Unie-Milnerton 28; Primrose 47, Pniël Villagers13; Hamiltons 57, NTK 12; Valsbaai 58, UK 7.

Superliga B

Hamlets 36, Kuilsrivier 31; Paarl 38, Sir Lowrians 11; Helderberg 41, Bellville 22; Villager 24, St Georges 8; Hands & Heart 33, Collegians 25; Kraaifontein 31, Violets 10.

Superliga C

Kylemore 29, Raithby Universals 19; Macassar 27, Busy Bees 16; Strand 28, Laguna 5.

Opgesomde punteleer –

Superliga A

Valsbaai 12, Hamiltons 12, Victoriane 12, Brackenfell 11, Tygerberg 10, Unie-Milnerton 6, SKW 6, Primrose 5, Belhar 5, Durbell 2, UWK 1, NTK 0, UK 0, Pniel Villagers 0, Stellenbosch 0 (het nog nie gespeel nie).

Superliga B

Villager 14, Paarl 12, Helderberg 10, St Georges 10, Hamlets 10, Rangers 8,Franschhoek 6, Young Peoples 6, Bellville 5, Hands & Heart 5, Kraaifontein 5, Kuilsrivier 2, Collegians 0, Violets 0, Sir Lowrians -1.

Superliga C

Vineyards 14, Strand 11, Macassar 11, Busy Bees 9, Young Stars 9, All Saints 7, Scottsdene-Sentraal 5, Kylemore 5, Goodwood 4, Langa 4, Hamediehs 2, Strand United 1, Lagunya 1, Elsies Rivier United 0, Raithby Universals 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.