WP-liga: Ikeys laat nog `n GB-span skrik

Valsbaai-logoIn `n wesenlike ommekeer van sy gesukkel in die reeks om die Varsitybeker het die Universiteit van Kaapstad die tweede opeenvolgende week `n deelnemer aan vanjaar se Goue Bekerreeks goed die skrik op die lyf gejaag.

Dié keer was dit DirectAxis Valsbaai, verlede jaar se beste oop klub in die Westelike Provinsie, wat weliswaar sy wedstryd in die bond se Superliga A 42-22 gewen het, maar rustyd net 24-17 voor was.

♦ Jon Harris, die woordvoerder van Valsbaai, sê die studente het eerste punte aangeteken, maar die Baai het onmiddellik met `n drie geantwoord, rustig geraak en mettertyd die beheer oorgeneem.

Hy glo Valsbaai se rypheid en ervaring het die grondslag vir die sege gelê. Die agttal het goeie eerstefasebesit gelewer al het die Ikeys (veral in die skrums) hoegenaamd nie teruggestaan nie. Dis goed deur die agterlyn se aanvallende spel aangevul.

Valsbaai het talle uitblinkers opgelewer: Wesley Chetty (stut, speler van die wedstryd), Ashley Wells (stut), Vlam van Vuuren (haker), Brandon Wood, Graham Knoop (die slotpaar), Jody Reineke (flank), Dylan Frylinck (skrumskakel, en sy plaasvervanger, Ridhaa Damon), Danie Roux (vleuel), Mustaqeem Jappie (vleuel) en Adnaan Osman (heelagter).

Wood het goeie lynstaanballe gewen; Chetty en Wells het stewig geskrum en was gevaarlik met die bal in die hande; Frylinck se diens was seepglad en sy steellopies gevaarlik; Roux was `n bedreiging elke keer as hy aan die bal gevat het; en Osman was so bestendig as kan kom.

Harris sê Hyahha Parusunga (agsteman) en die senterpaar Tom Bedinall en Leon Hurniss het die vir Ikeys uitgeblink.

Frylinck, Roux (twee), Wells, Chetty en Jappie het Valsbaai se drieë aangeteken. Die losskakel, Andri Claasen, (drie doelskoppe, `n straf- en `n skepdoel) het 12 punte bygedra.

Dylan Tidbury (skrumskakel), Hurniss, Parusunga en Mike Muller (heelagter) het die studente se drieë gedruk. Bedinall het een verdoel.

♦ Bronson Weir, die hoofafrigter van Belhar, laat weet sy span het Vrydag 12-26 teen die Viktoriane van Stellenbosch verloor.

Dennis Cox het al 12 Belhar se punte met vier strafdoele behaal.

Die span se volgende wedstryd is die groot derby teen Tygerberg op 7 Mei in Belhar.

kraaifonteinSuperliga B

♦ Kraaifontein het alles in die stryd gewerp om 24-24 gelykop te speel teen Collegians (Lentegeur) nadat laasgenoemde rustyd 9-7 voor was.

Albei die klub se spanne is dusver onoorwonne in die liga.

Kattes Kruger, Kraaifontein se woordvoerder, sê dit was `n baie taai wedstryd.

“Kraaifontein het die eerste tien minute op die aanval geboer, maar kon nie punte aanteken nie. Uiteindelik het Dawie Dyason `n goeie drie gedruk wat deur Michael de Boer verdoel is.

“Toheer Manuel het twee strafdoele vir Collegians behaal en kort voor rustyd `n skepdoel bygevoeg om sy span 9-7 te laat voorloop.”

Kruger sê die teenstanders het kort ná rustyd sterk aangeval en `n onverdoelde drie gedruk. Manuel het nog `n strafdoel aangeteken om Collegians 17-7 te laat voorloop.

“Kraaifontein het `n drie gekry nadat Lucan Kirschner `n bal afgestorm het en dis verdoel (17-7).

“Collegians het `n goeie aanval van `n lynstaan af van stapel laat loop, hul binnesenter is regdeur `n gaping en het onder die pale gedruk (24-14).”

Kraaifontein het aangeval vir al wat hy werd was, maar Crudaders se verdediging het gehou. `n Strafskop voor die pale het gevolg en is benut (24-17).

“Met min tyd oor het Kraaifontein `n beweging op tou gesit en Chrsto Davel het aan die oorkant van die veld ná `n laaste goeie dryfbeweging gedruk.

“De Boer het onder groot druk met die doelskop geslaag om die telling 24-24 te maak. Hy is as die speler van die wedstryd aangewys.”

Dyason, Kirschner en Davel; het die Kraaie se drieë gedruk, met De Boer wat nege (drie doelskoppe en `n strafdoel) met die voet bygevoeg het.

Vir Collegians het Ruziq Mohammed en Warren Louw gedruk. Manual het 14 punte met `n doelskop, drie strafdoele en `n skepdoel bygedra.

young Peoples♦ Rushdi Kiewitz, `n woordvoerder van Young Peoples, sê die klub se jong span moes Saterdag op Macassarpark diep delf om uiteindelik `n broodnodige sege van 18-16 oor Macassar te behaal.

“Moenie mislei word deur die telling nie, die Tiere het baie punte met swak stelskopwerk weggesmyt.

“Die sege is grotendeels te danke aan Young Peoples se oorheersende agttal, `n puik vertoning in die vaste fasette, en hegte verdediging in die middeveld deur `n senterpaar wat die eerste keer saamgespeel het.”

Kiewitz sê die Tiere se kaptein het voorlangs uitgeblink met stormlopies, harde verdediging en die uitoefening van goeie keuses. “Cassidy Geduld op loskop het soos `n besetene in die losskrums ingedons.

“Agterlangs was dit ook verblydend om te sien dat die heelagter Edward Hugo met baie meer vuur aangeval het, maar die verdediging van Luantion Abelse en Connray Poole was die hoogtepunt van hierdie wedstryd.”

Drieë deur Geduld, Jovan Martin en Hugo was almal onverdoel, en die 19-jarige losskakel Austin Arendse het ook met twee strafskoppe misluk voor hy in die doodsnikke die oorwinning met `n strafdoel aan die Tiere besorg het.

Jeffrey Whitelane van Franschhoek United bars weg met Alvero Herman en Darren Jacobs wat kom help. (Foto: Franschhoek Estate Security Services)

Jeffrey Whitelane van Franschhoek United bars weg met Alvero Herman en Darren Jacobs wat kom help. (Foto: Franschhoek Estate Security Services)

Superliga C

♦ TJ Riffel, die sekretaris van Franschhoek United, laat weet United het Silverleaf (Elsiesrivier) Saterdag 46-10 verslaan.

Die tweede span het 39-19 en die derde 48-7 gewen.

“Uitstekende spel deur ons voorspelers, het sake vir die agterspelers vergemaklik om die bal met chirurgiese presiesheid na mekaar te voer. Franschhoek se rotsvaste verdeding het ons teenstanders ernstige hoofbrekens besorg.”
Hy sê Winifred Nichols, United se regtervleuel, het twee spogdrieë met goeie aftrappe gedruk, en Anestley Williams het met sy presiese skopvoet die laaste spyker in die spreekwoordelike doodkis van van Silverleaf geslaan.

Nichols (twee), Morné Williams, Mason Davids, Gavin Johnson en Jeff Whitelane het Franschhoek se drieë gedruk. Anestley Williams se vyf doelskoppe en `n strafdoel het 13 opgelewer, en Elvero Herman het die sesde drie verdoel. Nichols het `n strafdoel behaal.

♦ Ashley Bess, `n woordvoerder van Silverleaf, sê Ethan Hess het die span van Elsiesrivier se drie gedruk, en Ian de Mornay het dit verdoel en met `n strafdoel geslaag.

♦ Paarl het Saterdag ses drieë in die Faurestraatstadion geruk om Hamediehs van Athlone 34-3 te klop. Die tweede span het 36-0 gewen (ook ses drieë) en die o.20s 29-7 (vyf drieë). Die derde span het weens `n tegniese punt nie gespeel nie.

Edmund Lewis, die wedstrydsekretaris van Paarl, laat weet die eerste span kon in `n swak eerste helfte slegs een drie aanteken. Beter samespel en dryfwerk deur die voorspelers in die die tweede helfte het tot `n verdere vyf drieë gelei.

“Die flank Francois Basson was die ster. Hy was skitterend op die aanval sowel as die verdediging en het die span se eerste drie gedruk.

“Die res is deur Ossie Thomas (twee), Conrey Pieters, Rogan de Wee en Jerome Visagie aangeteken. Jacobus Hendricks en Wilfred Bowers het elk `n doelskop behaal.”.

Titans EmblemSuiderliga

♦ Rocklands het op die Rooikrantz-sportterrein 17-10 teen Titans van Grassy Park gewen.

Aqeelah Ismail, die sekretaris van Titans, sê die tuisspan het briljant met die bal in die hande weggespring.

“Die hanteerwerk was onbesproke, die agterlyn het seepglad beweeg, die voorspelers het as `n hegte eenheid gespeel, maar dom foute en `n glipsie hier en daar het Titans die wedstryd gekos.

“Die span was gedissiplineerd en die samespel puik. Rocklands het die bal laat loop, maar Titans se verdediging het gehou en hulle kon nie deurbreek nie.”

Hy sê die skeidsregter se reëltoepassing was in die kol.

Elvonso Dirk het Titans se drie gedruk. Trevor Theron het dit verdoel en met `n strafdoel geslaag.

vanderstelNoorderliga

♦ Die buurspanne Van der Stel en Coronation Stellenbosch het 10-10 gelykop gespeel.

Charles Williams, Van der Stel se voorsitter, sê sy span het baie kanse om die wedstryd te beklink in die tweede helfte verspeel.

“Verkeerde keuses en swak afronding het die Van der Stellers van `n oorwinning weerhou.”

Onder die voorspelers het veral die lostrio, die kaptein, Charles Williams jr, Rashaad Williams en Fabian Adonis goeie spel gelewer. In die agterlyn het veral die senters, Hilton van der Vent en Kenneth de Kock, en die heelagter, Lorenzo Claasens, uitgeblink.

Warren de Kock (vleuel) en Claasens het Van der Stel se drieë gedruk.

♦ Dawid Paulse, `n woordvoerder van Atlantis, berig All Saints het Atlantis 25-6 geklop en verkwalik die skeidsregter grootliks daarvoor.

Paarlliga

♦ In die Daljosafatstadion in die Paarl het Albions vir Windmeul United 38-17 geklop.

Ryan Dirks, die voorsitter van Albions, sê Windmeul is `n baie fisieke span en is goed met die bal in die hande, maar Albions het die wedstryd dadelik oorgeneem deur die bal voor te hou en van voor na agter basiese rugby te speel.

Hy sonder Bradley Fielies vir sy knap spel uit.

Carlyle Williams het 18 van Albions se punte met `n drie, vyf doelskoppe en `n strafdoel behaal. Ches Cyster, Hershell Fredericks, Brenden Fortuin en Joewayne Cyster het die ander drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.