WP-liga: minder bekendes maak stem vroeg dik

Twee minder bekende klubs is besig om hulle vroeg-vroeg te laat geld in die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se Superliga A.

Hamiltons, wat lyk of hy vanjaar nuwe lewe gekry het, en Stellenbosch is weliswaar die voorlopers, maar Brackenfell en Tygerberg blaas in hul nekke.

Die kampioen en Goue Bekereindstryder, Valsbaai, is tans vyfde op die punteleer, en die bond se ander GB-deelnemer, Durbanville-Bellville, negende uit 15 klubs.

Die Brakke het Saterdag indrukwekkend teruggeveg en met 19-17 met die Victoriane afgereken, nadat hulle rustyd 7-17 agter was; en die Tiere het oortuigend met 25-3 teen NTK gewen.

♦ Johann Kotze, die afrigter van Brackenfell, sê Vics het ʼn groot gedeelte van die wedstryd deur middel van ʼn goed gestruktureerde verdedigingspatroon en aggresiewe spel in die vaste los die botoon gevoer.

“Brackenfell het egter die wedstryd gewen as gevolg van sy hoë vlak van kondisionering en volgehoue samespel tot die einde. Hy het twee drieë in die laaste 10 min gedruk om die oorwinning te beklink.

“Daar moet ook melding gemaak word van die impak wat Brackenfell se bankspelers gemaak het.”

Kotze sê Schalk van der Merwe (flank en kaptein van die Brakke) het uitstekende spel op die verdedinging en in die losskrums gelewer.

Op sy stukke

“In die agterlyn was Vivian Nel (senter) oudergewoonte op sy stukke, en het hy indruk met sy sterk hardloopwerk gemaak.

“Nieteenstaande die min geleenthede wat hulle gekry het, was albei Brackenfell se vleuels, Duan du Plessis en Daylan Daniels, en die heelagter, Danie Ochse, deurgaans ʼn bedreiging op die aanval,” het Kotze aan Pale Toe! gesê.

Courtney Cupido (senter), JP Prinsloo (stut) en Darian Hock (losskakel) het Brackenfell se drieë gedruk. Wouter Whitmore (skrumskakel) en Andro Nieuwoudt (plaasvervanger-senter) het elk een daarvan verdoel.

Brackenfell het sover drie oorwinnings in sy vier ligawedstryde behaal, en speel die volgende twee weke tuis teen Tygerberg en Milnerton.

Kotze nooi alle belangstellendes om by die klub betrokke te raak en in sy seisoen te deel.

♦ Stanton Lesch, Tygerberg se wedstrydsekretaris, laat weet die Tiere se wedstryd op Floridapark teen sy buurman NTK was ʼn tipiese derbystryd: kliphard, fisiek uitmergelend en hoogs mededingend.

“Die vaste vyf se oorheersing, ondeurdringbare verdediging en ʼn goed gestruktureerde wedstrydplan was opnuut die sleutel tot sukses.

“Daar was nie individuele uitblinkers nie, maar die vaste vyf – Eesaa Maker, Shameegh Allen, Christo van Wyk, Marvin Fransman en Keegan May – was weereens baas. Die stewige platform wat dié vyftal met voldoende voorvoetbal van gehalte gelê het, is goed deur die puntemakers benut.

Dale van Schalkwyk, Allen en Marvin Fransman het drieë gedruk, en Deon Taljaard het twee verdoel en twee strafskoppe in punte omskep.

Lesch sê dit was die Tiere se eerste tuiswedstryd uit die drie wat hulle dusver gespeel het.

“Ons is trots op die oortuigende wenspeling, maar teleurgesteld dat ons nie ʼn broodnodige bonuspunt kon insamel nie. Ons kyk egter vorentoe, en sal met elke wedstryd verbeter.

“’Speler 23’, ons lojale ondersteuners, het soos gewoonlik ʼn beduidende rol in Tygerberg se sukses gespeel deur die wedstryd in groot getalle by te woon,” het Lesch aan Pale Toe! gese.

Ander uitslae –

Superliga A

Stellenbosch 70, UWK 0 (3 Mei); Belhar 26, Primrose 25; Hamiltons 62, Unie-Milnerton 24; Stellenbosch 41, Valsbaai 40; UWK 49, Pniel Villagers 17; Durbell 42, SK Walmers 38.

Superliga B

Kuilsrivier 34, Young Peoples 7; Bellville 24, Violets 6; Villager 31, Rangers 26; St Georges 27, Paarl 13; Hands & Heart 60, Sir Lowrians 12; Hamlets 39, Collegians 13; Helderberg 37, Franschhoek 30.

Superliga C

Scottsdene-Sentraal 35, Langa 32; Goodwood 36, Hamediehs 0; Macassar 57, Lagunya 14; Vineyards 39, Strand 19; Busy Bees 30, Young Stars 15; Raithby Universals 34, Elsiesrivier United 10; Strand United 14, All Saints 11.

Stadsliga

Caledonian Roses 30, Technikon-Tuine 10; Manenberg Rangers 18, Silvertree 17; Western Zebras 43, Perseverance 5; Progress 17, Masiphumelele 15; Polisie 65, Watsonia 0.

Suiderliga

Young Wesleys 22, Rocklands 0; Thistles 16, Titans 10; Atlantis 12, Silverleaf 7; Peninsula 20, Bishop Lavis 0.

Noorderliga

Blue Jets 22, Whistling Wheels 20; Eersterivier 73, Strand Pioneers 5; Khayelitsha 32, Stellenbosch Coronations 29; Van der Stel-Evergreens 76, Delft 5.

Paarlliga

Allandale 45, Young Gardens 7; Young Standards 22, Violets (Paarl) 5; Simondium 28, Riverstones 26; Agter-Paarl 17, Paarl Rangers 12.

Simonsbergliga

Phizantekraal 9, Pumas 7; Wanderers 32, La Motte 5; Morning Star 35, Faure 7; Excelsior 43, Llwandle 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.