WP-liga: Paarl jaag Rangers in Super C

paarlPaarl is ná Saterdag die vernaamste uitdager van die voorloper, Rangers, in die Westelike Provinsie se Superliga C.

Sy sege van 21-10 oor Kylemore plaas hom stewig in die tweede plek en die verloorspan derde.

In Saterdag se ander kragmetings in die reeks het Scottsdene-Sentraal 33-24 teen Lagunya gewen; Langa het Raithby Universals net-net 28-27 geklop; en Franschhoek United het 14-0 met Elsies River United afgereken.

Edmund Lewis, die wedstrydsekretaris van Paarl, sê die wedstryd teen Kylemore was taai en min genade is betoon.

Die wenspan was rustyd 9-0 voor, en beter samespel en dryfwerk deur die voorspelers in die tweede helfte het die wedstryd in Paarl se guns beklink.

Lewis sê die losskakel, Malcolm Theo, was goed op dreef.

“Hy het sy spel puik afgewissel en sy bydrae met die skoen was van onskatbare waarde vir sy span. Hy het `n doelskop, `n skepdoel en twee strafdoele – een van vyf meter binne sy eie helfte – in punte omskep.”

Conrey Pieters (slot) het twee drieë vir Paarl gedruk.

Kylemore se tweede span het 18-17 gewen; Paarl se derde 29-13, en die o.20-spanne het 5-5 gelykop gespeel.

Opgesomde punteleer –

Rangers 38, Paarl 35, Kylemore 30, Young Stars 30, Franschhoek United 29, Langa 29, Raithby Universals 21, Elsies River United 19, Scottsdene-Sentraal 16, Strand United 16, Lagunya 14, Blue Jets 12, Hamediehs 7, Masiphumelele 5, Silverleaf 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.