WP-liga: ploeteraar laat kampioen groot skrik

durbell-logo.squareEen van die ploeteraars van die reeks om die Varsitybeker het Saterdag die oop klubs se Goue Bekerhouer sommer baie groot in die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se Superliga A laat skrik.

Durbanville-Bellville kon op sy tuisveld slegs met `n enkele punt (20-19) deurskraap teen die Universiteit van Kaapstad, wat geeneen van sy sewe wedstryde in die Varsityreeks kon wen nie.

♦ Darron Nagel, die ondervoorsitter van Durbell, sê die kampioen het vol selfvertroue begin, die studente by die afbreekpunte geklop en die besit behoorlik benut.

“Die Durbies se immer gevaarlike agterlyn was op sy stukke en het gesorg dat die span rustyd 15-5 voor was.”

Met die sterk wind van agter het die Ikeys Durbell in die tweede helfte laat les opsê. Hulle het gevaarlike aanvalle van stapel laat loop en met behulp van die wind Durbell in die hoeke vasgepen.

Nagel sê die druk het daartoe gelei dat die Durbies `n klompie strafskoppe afgestaan het.

“Op die ou end was dit dapper verdediging en `n sterk karakter wat die wa deur die drif gesleep het. Die Durbies het die durf waarvoor hulle bekend is aan die dag gelê, met mag en mening verdedig en die Ikeys se heftige en langdurige aanslae op hul doellyn manhaftig afgeslaan.

“Die toewyding blyk duidelik uit die lang lys beserings wat voor die volgende bepaling op 7 Mei uit die weggeruim sal moet word.”

Stelskopwerk was `n haas onbegonne taak vanweë die kwaai wind. Durbell het met al ses sy skoppe pale toe misluk en die Ikeys met vyf.

Nagel sê die spel van die heelagter Warrick Rhoode, wat vir die beseerde Raymond Olivier instaan, was `n openbaring. Hy het beïndruk deur twee skitterdrieë te druk en die jongeling toon duidelik groot belofte.

Die slot Stuart Austin was briljant in die lynstane.

Keith Theunissen en Servaas Hofmeyr se tweede span het sy eerste ligasege behaal deur die Ikeys 17-7 te klop, en die derde span het sy studente-eweknie 20-12 getroef.

Valsbaai IV het die Durbie Blues 36-19 verslaan; die Ikeys se “Young Guns” het Durbell o.20A 36-13 ondergesit; en Hamiltons het die o.20B-span 48-0 oorskadu.

Valsbaai-logo♦ Die WP se ander Goue Bekerspan, DirectAxis Valsbaai, het Belhar 39-23 verslaan. Die rustydtelling was 22-10.

Jon Harris, Valsbaai se woordvoerder, sê dit was `n fisieke wedstryd en die Baai het `n kans gewaag deur die eerste helfte teen `n sterk wind in te speel.

“Die span het die geleenthede wat hy in die eerste helfte gekry het in punte omskep en dit was waarskynlik die verskil tussen die twee spanne.

“Die Baai-voorspelers was uitmuntend, maar Belhar het goed meegeding. Dalk skort dit net met hul fiksheid.”

Harris sê dingetjies buite die spel het Valsbaai twee en Belhar een geel kaart besorg.

Die senter Wesley Hamilton het talle kere deur Belhar se verdedigingslinie gebreek; die vleuel Justin Fielies het die teenstanders laat bontstaan; die kaptein en slot, Graham Knoop, is moeilik gestuit wanneer hy die bal gedra het; die skrumskakel Ridhaa Damon was blink agter die agttal; en sy plaasvervanger, Dylan Frylinck, was bedrywig en vol lewe.

Mustaqueem Jappie en Vlam van Vuuren het elk twee drieë vir Valsbaai gedruk. Andri Claasens het `n drie gedruk en `n doelskop behaal. Jody Reineke en Danie Roux het die ander drieë gedruk en Adnaan Osman het nog een verdoel.

Superliga B

villager-logo♦ Toe loop bederf Villager Goodwood se verjaardagpartytjie. Laasgenoemde het sy Superliga B-kragmeting teen die span van Brookside benut om sy 75ste verjaardag te vier, en Villager wen toe 26-24 (rustyd 21-12).

Zubs Abrahams, Brodie Blows, Nic Vetsos en Ashley Clarke het Villager se drieë gedruk en Daniel Clarke het drie verdoel.

Die buitesenter, Donald Crawford, Villager se aanwins van die Tukkies af, het met sy kragtige hardloopwerk en sterk breekslae beïndruk, maar `n dyspierbesering het hom kort voor rustyd van die veld af gedwing.

Kwaks Ngwanya (slot) was die speler van die wedstryd, berig die klub se nuusbrief.

Villager II het Goodwood II 12-10 geklop.

Rafique September het so te sê die hele lengte van die veld genael vir die wenspan se eerste drie, wat deur Dillyn Ranger verdoel is. Rowaahl Jaftha het die ander een gedruk,.

kraaifontein♦ In nog `n wedstryd in die Superliga B het Kraaifontein 32-24 teen Helderberg gewen.

Anthony Lambrechts, `n woordvoerder van die wenspan, laat weet dit was in die eerste helfte net Kraaifontein, Kraaifontein – met die agttal wat die grondslag in die skrums en lynstane gelê en vinnige tweedefasebal aan die agterlyn besorg.

Hy sê Helderberg het die tweede helfte sterk begin en die wind tot sy voordeel aangewend om Kraaifontein se gebied te beset. Puik verdediging het hulle egter van die doellyn af weggehou.

Lambrechts sê albei spanne het voluit meegeding en rugby van `n hoë gehalte gespeel.

“Kraaifontein se skrumskakel, Lincoln James, het die spel goed beheer, sy balverspreiding was uitmuntend, en sy dekverdediging vreesloos. Die slot John Sheapard het in die lynstane en losgemale uitgetroon.

Dawie Daiyson (twee), Edward Wilkinson en Nico Etzebeth het die Kraaie se drieë gedruk, en Micheal de Boer het die res met sy sjkoen bygevoeg.

Noorderliga

vanderstel♦ In die Noorderliga het Van der Stel `n goeie sege van 62-22 oor Strand Pioneers behaal.

Charles Williams, die voorsitter van Van der Stel, sê hy het alle aspekte van die spel oorheers en die afrigter het na rustyd sommer al sy plaasvervangers opgestuur.

“Die voorrymanne Belly Mudangomba en Gemaine Arnolds en die haker Riaan Taute het veral die oog gevang. Hulle het nie net sterk geskrum nie, maar ook in die algemene spel goed vertoon.

“Agterlangs het die senter Kenneth de Kock en die heelagter Lorenzo Claassen goed vertoon.”

Lorenzo Claassen (drie), Kenneth de Kock (twee), Warren de Kock, Taute, Elrico Februarie, Jemaine Arnolds en Rashaad Williams het Van der Stel se drieë gedruk. Februarie het vyf verdoel en Viago Jacobs een.

Van der Stel speel eerskomende Saterdag op die Van der Stel-sportterrein in `n derby teen Stellenbosch Coronations. Die wedstryde begin 13:30.

♦ Dawid Paulse, `n woordvoerder van Atlantis, sê hegte verdediging het Atlantis in staat gestel om Imiqhayi 12-3 te klop.

John Davids en G Adonis het vir die wenspan uitgeblink.

Paarlliga

♦ Natheley Manuel, die wedstrydsekretaris van Allendale, sê die klub het die vaste fasette oorheers in sy sege van 26-20 oor Young Standards in die Paarlliga.

“Allendale was baas in die skrums en lynstane, het in groter getalle by die afbreekpunte opgedaag en goeie omkeerbesit bewerkstellig.

“Hulle het seker gemaak dat die agterspelers balbesit van gehalte kry en volop beweegruimte vir die uitblinkers Ryan Jordaan en DIllon Martin geskep. Jordaan was die speler van die wedstryd.”

Manuel sê Allandale beleef dusver `n goeie seisoen en is onoorwonne in drie wedstryde.

Ander uitslae –

Superliga A

Tygerberg 41, Brackenfell 6; SK Walmers 23, Viktoriane 19; Primrose 29, Kuilsrivier 23; Hamiltons 36, Sir Lowrians 21.

Superliga B

Pniel Villagers 35, Young Peoples 13; Unie-Milnerton 33, Violets 10; Strand 26, Collegians 26; Macassar 31, Hands & Heart 28; Hamlets 30, St Georges 18.

Superliga C

Rangers 36, Blue Jets 10; Kylemore 22, Raithby Universals 20; Paarl 26, Strand United 13; Young Stars 21, Masiphumelele 18; Hamediehs 39, Silverleaf 14; Elsies River United, Scottsdene-Sentraal.

Stadsliga

Western Zebras 43, Watsonia 26; Polisie 33, Temperance Cities 13; Technikon-Tuine     13, Caledonian Roses 3; Silvertree 19, Manenberg Rangers 14; Young Ideas 41, Perseverance 24.

Suiderliga

Young Wesleys 16, Peninsula 11; Thistles 33, Young Brothers 15; Retreat 43, Bishop Lavis 5; Eersterivier 14, Rocklands 13.

Noorderliga

Vineyards 29, Stellenbosch Coronations 16; All Saints 70, Delft 0.

Paarlliga

Riverstones 24, Young Gardens 3; Paarl Rangers 44, Windmeul United 32; Violets (Paarl) 20, Albions 11; Agter-Paarl 19, Simondium 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.