WP-liga: Tygerberg trappie vir trappie boontoe

Die onoorwonne Tygerberg is besig om trappie vir trappie boontoe te klim op die punteleer van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se Superliga A.

Sy sege van 38-14 Saterdag oor Schotschekloof Walmers (SKW) plaas hom derde ná Hamiltons en die onoorwonne Maties, en ʼn trappie bo die verdedigende kampioen en Goue Beker-naaswenner, Valsbaai.

Die Baai is juis eerskomende Saterdag op Floridapark die Tiere se volgende teenstander.

Stanton Lesch, Tygerberg se wedstrydsekretaris, sê die Tiere en SKW is ou vyande en het menige titaniese tweestryd agter die rug.

“Die tradisie is Saterdag voortgesit met nog ʼn klipharde, fisiek uitmergelende en uiters mededingende kragmeting.

“Voorspeler-oorheersing, ondeurdringbare verdediging en die Tiere se vermoë om munt uit die ruimte aan die buitekant te slaan, was opnuut die sleutel tot sukses.”

Lesch se Shuaib (Bom) Samaai, Gary Williams, Daniel Roberts en Alroy Brandt het voorlangs uitgeblink.

“Tygerberg se oorheersing voor het n oorvloed gehaltebesit op die voorvoet opgelewer, wat die driedrukkers kon benut.”

Roberts, Brandt (twee), Samaai en Wilbre van Wyk het Tygerberg se drieë gedruk, en Deon Taljaard het twee verdoel en met drie strafdoele geslaag.

Lesch sê die bonuspuntsege voor die lojale tuisskare is te verwelkom, en die Tiere werk nou hard om gereed te wees vir Valsbaai, die huidige norm waaraan klubs in die WP getoets word.

Ander uitslae –

Superliga A

Universiteit van Kaapstad 36, Primrose 7; Universiteit van Wes-Kaapland 42, NTK 29; Unie-Milnerton 43, Brackenfell 30; Hamiltons 44, Belhar 17.

Opgesomde punteleer –

Superliga A

Hamiltons 27, Stellenbosch 25, Tygerberg 23, Valsbaai 19, Victoriane 18, Brackenfell 15, UWK 13, SKW 13, Belhar 9, Ikeys 9, Durbell 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Matilda ·

Baie trots op jou Gary Williams!! Sterkte vir die naweek TIERE!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.