WP-liga: Valsbaai in rillerstryd teen Maties

Twee van Suid-Afrika se heel voorste rugbyklubs het in hul jongste kragmeting in die Westelike Provinsie se Superliga A vir ʼn rillerstryd van die eerste water gesorg.

Die wedstryd tussen Valsbaai, die naaswenner in die oop klubs se afgelope internasionale reeks om die Goue Beker, en die Maties, insgelyks die naaswenner in die universiteite se reeks om die Varsitybeker, is eers in die 83ste minuut beslis.

Die telling gee ʼn aanduiding van die volgehoue spanningsvlak: die Maties was rustyd met 24-23 voor, en het uiteindelik met 41-40 gewen. Valsbaai se tweede span het ʼn wegholsege van 52-19 behaal.

♦ Jon Harris, die woordvoerder van DirectAxis Valsbaai, berig dit was een van die opwindendste klubwedstryde in ʼn lang tyd, en die Baai het die voortou drie minute voor die einde geneem toe sy heelagter, Mustaqeem Jappie, gaan druk het.

“Die Matie-flank Janco Venter het egter die Valsbaai-harte gebreek toe hy in die derde minuut van bykomende tyd ʼn teenaanslag van 50 m afgerond het, en die onverstoorbare heelagter, Tiaan Swanepoel, geen fout met die doelskop begaan het nie.”

Albei stelskoppers het ʼn vlekkelose rekord gehandhaaf en Swanepoel het 16 punte met vyf doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Die Baaise losskakel, Andri Claassen, het op sý beurt met vier elk doelskoppe en strafdoele geslaag om 20 punte aan te teken.

Johan van Niekerk (flank, twee), Jaco Venter (flank), Stefan Streicher (agsteman) en Braam Venter (senter) het die studente se drieë gedruk, en Roemark Smith (vleuel, twee), Jappie (heelagter) and Taps Tsamondo (flank) Valsbaai s’n.

Harris sê die ervare Tsamondo het dusver ʼn sprankelseisoen beleef.

“Sy kragtige werk by die afbreekpunte en op die verdediging, word aangevul deur ʼn vaartversnelling wat menige vleuel groen van jaloesie sal laat. Hy het sy beste vertoning sover in die Valsbaai-trui teen die Maties gelewer.

Indrukwekkende kraglopies

“Ná rustyd het die agsteman Ryan Olivier sy beste rugby in ʼn lang tyd gespeel, met uitmuntende dekverdediging en indrukwekkende kraglopies.

“Die vaskopstut Ashley Wells het die Baai-agttal se oorheersing oor die Maties aangevuur met ʼn klassieke skrumvertoning, wat geensins afbreuk aan sy spel in die los gedoen het nie.”

Harris sê die tweede helfte het opwindende en uitnemende hardlooprugby opgelewer waarin die voortou vier keer van hande verwissel het.

Valsbaai speel Saterdag teen Unie-Milnerton wat sy senior status na ʼn lang afwesigheid herwin het.

Dit dien ook as die André Vosloo-uitdaagwedstryd, vernoem na ʼn gewilde lid van albei klubs, wat ʼn paar jaar gelede in sy fleur oorlede is.

Superliga B

♦ Matt Rockhill, Villager se nuusbriefredakteur, laat weet die klub het al sy wedstryde teen Rangers gewen: die eerstespan met 31-26, die tweedespan met 20-7, die derdespan met 27-0, en die o.20-span met 20-5.

Die onderskeie uitblinkers was Joel Murphy (eerstespan-heelagter), Yusriy van der Schyff (die tweedespan se vaskopstut), Leeroy Biehl (die derdespan se agsteman) en Jared Herman (ʼn slot van die o.20A-span).

Die klub voel gevlei deur die besoeke van sy Springbokheld van die jare sestig, Dave Stewart, en Gummy Rookledge, vernuftige baljagter-flank van die jare sewentig en tagtig.

Villager speel Saterdag op Brookside teen Franschhoek, en Rockhill sê hy (Villager) werk hard daaraan om sy senior status terug te wen.

Stadsliga

♦ Francois Venter, die ondervoorsitter van Polisie, laat weet hy het sy ligaverpligtinge teen Watsonia afgehandel toe hy op sy tuisveld in Pinelands maklike oorwinnings oor ʼn sukkelende besoeker behaal het.

Die eerstespan het met 65-0 en die tweedespan met 63-0 gewen. Watsonia se derde span het punte gegee.

Venter sê die eerstespanwedstryd was nie juis opwindend nie en Polisie sal dit gou wil vergeet omdat hy strawwe teenstand verkies met die oog op die groot wedstryde wat voorlê.

“Die Bobbies het die vaste fasette oorheers, en hoewel hulle in die eerste paar skrums gesukkel het, het hulle sewe vaskopballe gehaak.

Vuurvreterslot

“Die lynstane is deur die Bobbies oorheers en hier was dit veral die vuurvreterslot en kaptein, Jerome Volkwyn, wat beïndruk het.

“Die agsteman Michael Jacobs het ook goed vertoon, en met dié platform kon die agterlyn behoorlik baljaar.

“Hier was dit onder meer die skrumskakel Tye Jacobs en die vleuel Freddie Jacobs wat behoorlik baljaar het en die span het drie drieë gedruk.

Polisie is tans vyfde op die punteleer, en Venter sê indien hy die liga wil wen, is daar baie harde werk wat voorlê, veral gesien in die lig daarvan dat hy nog teen die drie topspanne moet speel.

Venter sê Polisie se tweedespan het stadig maar seker beheer oor die wedstryd gekry, en die rustydtelling was 22-0. In die tweede helfte het hulle die krane behoorlik oopgedraai.

Baljaar

“Die grondslag is deur die beweeglike voorspelers van Polisie gelê wat die afbreekpunte oordonder het.

“Dit was veral die vaskopstut George Ontong, die kaptein en agsteman Anthony Daniels en die flank Randall Olifant wat beïndruk het.”

Venter sê met die hope balbesit kon Polisie se agterlyn behoorlik baljaar, met die heelagter Stefan (Skolie) Koen wat geskitter het met sy vlugvoetigheid en kragtige lopies wat die verdedigers telkemale in die lug laat gryp het, en wat met sy kanonvoet telkemale die telbord laat rol het.

“Die senter Joe Bruintjies was dodelik op die aanval en rotsvas op die verdediging. Watsonia het geen teenvoeter vir hom gehad nie.”

Polise speel Saterdag teen Perseverance op Stadspark in Athlone en dit behoort ʼn grote te wees, sê Venter, aangesien dit altyd ʼn harde wedstryd tussen dié twee klubs oplewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.