WP-liga: Valsbaai speel soos ware kampioen

Valsbaai het Saterdag soos ʼn ware kampioen gespeel toe hy ʼn vasberade Unie-Milnerton stelselmatig afgetakel het om met 53-3 (rustyd 17-3) te wen.

Só laat weet Jon Harris, die woordvoerder van DirectAxis Valsbaai, die verdedigende WP-kampioen en naaswenner van die oop klubs se Goue Beker, ná dié twee spanne se kragmeting in die bond se Superliga A in Constantia.

“UniMil, in ʼn week met drie uitputtende wedstryde teen topteenstand (Hamiltons, die Maties en Valsbaai), het in die eerste halfuur met ʼn felle, dolle aanslag druk op Valsbaai geplaas.

“Sy ordinêre hanteerwerk en Valsbaai se verbete verdediging het egter enige kans op punte in die kiem gesmoor.”

Harris sê dit was ʼn skouspelagtige wedstryd en talle van die Baai se nege drieë het van blitsige teenaanvalle uit sy eie gebied gekom. Hy het die pas in die tweede helfte versnel, en in weerwil van UniMil se moedige weerstand die botoon gevoer.

Harris bestempel die flank Michael Botha se vertoning as “kolossaal”, sy flankmaat Brandon Wood se spel as ʼn “openbaring”, en die agsteman Ryan Olivier het voortgebou op sy hoogstaande vertoning in die vorige wedstryd se tweede helfte.

Valsbaai se skrum was een te veel vir UniMil, en Graham Knoop (slot en kaptein) en Wood het hulle in die lynstane laat les opsê.

“Knoop verstom met die wyse waarop hy elke week beter speel,” sê Harris.

“Niyaas Johnson (skrumskakel) het in sy eerste opdrafwedstryd gedy, en sy plaasvervanger, Ridhaa Damon, het sy goeie werk voortgesit.

Dividende gelewer

“Die losskakel Andri Claassen se taktiese skopwerk was in die kol, en sy lang kantlynskoppe het dividende gelewer omdat UniMil gedwing is om self die kantlyn op te soek.”

Harris sê Riaan O’Neill, wat ʼn puik seisoen beleef, en sy sentermaat Carl Kohne het uitgemunt, en Mustaqeem Jappie het soos gewoonlik nie teleurgestel nie.

Karl Martin, Botha (twee), Kohne, O’Neill, Olivier (twee), Wood en Taps Tsamondo het Valsbaai se drieë gedruk. Claassen en Dylon Frylinck het elk twee verdoel.

Adrian Roberts het UniMil se strafdoel aangeteken.

Valsbaai het eerskomende naweek ʼn loslootjie, en speel die week daarna teen die onoorwonne Tygerberg op Floridapark.

♦ Tygerberg se jongste sege was teen sy buurman in die Noordelike voorstede, Brackenfell, wat hy in ʼn wegwedstryd met 21-7 geklop het.

Stanton Lesch, die wedstrydsekretaris van Tygerberg, sê dit was, soos dit maar met derbies gaan, ʼn strawwe, fel mededingende en fisiek uitmergelende wedstryd.

“Oorheersing voor, hegte verdedigingstrukture, ʼn gestruktureerde wedstrydplan en ʼn enorme lojale ondersteunerskorps het weereens die sege ten grondslag gelê.

“Die voorspelergesag het vir genoeg balbesit van gehalte gesorg, sodat die driedrukkers daaruit kon munt slaan,” sê Lesch.

“Stewart Jacobs, Errol Jaggers, Christo (Tiny) van Wyk en Sebenza Maphumulo was Tygerberg se grootste uitblinkers.”

Shameegh Allen, Daniel Roberts en Stewart Jacobs het die Tiere se drieë gedruk, en Deon Taljaard het al drie verdoel.

Lesch sê die Tiere is trots op die oortuigende wenspeling, maar die span het op deurslaggewende tye aan selfbeheersing tekort geskiet.

“Met groter kalmte kon die span meer munt slaan uit die oorvloed geleenthede wat die voorhoede geskep het.

“Die Tiere fokus nou op hul volgende kragmeting Saterdag teen Schotschekloof Walmers tuis op Floridapark, en streef daarna om elke wedstryd beter te speel.”

Superliga B

♦ In die Superliga B het Kraaifontein met 24-36 teen St Georgeʼs op laasgenoemde se tuisveld verloor.

Manny de Paiva, Kraaifontein se afrigter, sê swak besluitneming en doellose skoppe het sy span die wedstryd gekos.

“Kraaifontein het goed begin en was ʼn hele ruk lank op die aanval tot St Georgeʼs besit omgekeer het.

“Ons heelagter kon nie ʼn goeie skop bemeester nie, die bal het gespring, St Georgeʼs het dit raakgevat, en ʼn drie gaan druk en verdoel.

“Pas ná die afskop het hy weer gaan druk en oorgeskop (14-0). Nóg twee vinnige drieë het gevolg en Kraaifontein was onder druk.”

De Paiva sê Kraaifontein het egter goed teruggeveg en in ʼn stadium was die telling 31-24 in St Georgeʼs se guns, met die Kraaie wat alles in die stryd gewerp het om ʼn drie te druk en ʼn gelykop uitslag af te dwing.

“St Georgeʼs het egter nog ʼn drie gedruk om die telling bo alle twyfel te stel.”

Hy sonder Tiaan du Plessis as Kraaifontein se beste voorspeler uit, en Siya Mphalwa as die beste agterspeler.

Du Plessis, Lucanian Kirschner (twee) en Tiaan Coetzee het Kraaifontein se drieë gedruk, en Michael de Boer en Mphalwa het elk een verdoel.

♦ Matt Rockhill, Villager se nuusbriefredakteur, laat weet die klub het Saterdag al sy wedstryde op Brookside teen Franschhoek gewen.

Die eerstespan het met 33-28 gewen, die tweedespan met 41-39, die derdespan met 34-17 en die o.20A-span met 19-12.

Die beste spelers was Marx Makanza (eerstespan), Nik Vetsos (tweedespan), Toufiq Mallie (derdespan) en Evan Viisser (o.20A-span).

Noorderliga

♦ Charles Williams, die voorsitter van Van der Stel-Evergreens (VDE), laat weet die klub se eerste span is steeds op die wenpad nadat hy Blakes, eweneens van Stellenbosch, sy vierde agtereenvolgende neerlaag in die Noorderliga toegedien het.

VDE het die wedstryd op Cloetesville met 16-8 gewen, nadat hy rustyd met 9-3 voorgeloop het.

“Blakes kan sy sterre dank dat hy nie ʼn baie groter pak slae gekry het nie. VDE het die wedstryd met sy voorspelers oorheers, en het nie al sy kanse om punte aan te teken benut nie.

“Tussen Ralton Daniels en Ando Dreyer is minstens vyf maklike strafskoppe pale toe verbrou. Daarby het VDE minstens vier drieë met swak afronding en suinige spel in die water gegooi. Rantie Thomas was hier die groot sondaar.”

Williams sê die grondslag van die sege is deur die agttal gelê.

“Die vaste vyf – Elviso Gabriels, Riaan Timmie, Anton Francis, Ralton Daniels en Winston Krediet – het weereens baie goeie skrumwerk gelewer, maar Timmie het gesukkel om sy springers met die ingooi by die lynstane te vind.

“Die losvoorspelers Dirkie Lavin, Thomas en Vernon Fortuin het amok gemaak, en Lavin is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.”

Hy sê die belowende jong losskakel Wimpie Steyn het gewys dat hy propvol rugby is, en het goed met die veteraansenter Hilton van der Vent gekombineer.

“Albei vleuels, Clayton Arendse en Harold Martiens, het sterk met die bal gehardloop, en Ando Dreyer het getoon dat hy van sy beserings herstel het.

“Arendse het juis ʼn bal op die middelllyn onderskep om die uitslag te beklink, nadat Blakes wanhopig die bal probeer rondgooi het.”

Daniels (twee strafdoele) en Dreyer (ʼn doelskop en ʼn strafdoel) het die res van die wenspan se punte bygedra.

VDE se tweedespan het met 18-33 teen Blakes vasgeval, en sy derdespan het die wedstrydpunte gekry nadat Blakes se derdespan nie op sy tuisveld opgedaag het nie.

Die o.11- en o.13-spannetjie van VDE het onderskeidelik met 0-0 en 7-7 elk teen Dennegeur gelykop gespeel, en die o.15-spannetjie het met 27-19 gewen.

VDE kom Saterdag op die Van der Stel-sportterrein teen Blue Stars van Klapmuts te staan, wat ook vanjaar nog onoorwonne is.

Williams reken die wedstryd behoort kookwaterrugby op te lewer.

Stadsliga

♦ Fuad Petersen, die sekretaris van Caledonian Roses, berig sy span het in Langa met 12-17 teen Western Zebras verloor.

Hy sê Roses het ʼn terugslag ervaar toe sy eerstekeuse-losskakel onttrek het.

“Die hele agterlyn moes herskik word, en dit het tot Roses se ondergang in die eerste helfte gelei,” se Petersen.

“Hy kon nie Zebras se rotsvaste verdediging deurdring nie, en die voorspelers het sleutellynstane op deurslaggewende tye afgestaan.

“Dit het veroorsaak dat die span van Langa die oorhand in die eerste helfte gekry het.”

Petersen sê Roses het in die tweede helfte sterk teruggeveg, en 20 minute lank sonder sukses ʼn bres in die verdediging probeer slaan.

“Roses sal feller by die afbreekpunte moet meeding, en sy deurdringinskrag in die middelveld sal moet verbeter.”

Siraaj Jaffa het Roses se drie gedruk en ʼn strafdrie is aan die span toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.