WP-liga: Victoriane skud GB-span in fondamente

Die Victoriane het Saterdag een van die Westelike Provinsie se twee Goue Bekerspanne tot in sy fondamente geskud in hul kragmeting in die bond se Superliga A.

Die Universiteit van Stellenbosch se naasbestes het die GB-halfeinder Durbanville-Bellville oortuigend met 41-27 geklop.

Die GB-finalis Valsbaai het met 36- 21 teen Schotsekloof Walmers gewen; en Hamiltons het net-net met 26-24 teen Brackenfell gewen.

♦ Stanton Lesch, die wedstrydsekretaris van Tygerberg, laat weet die Tiere het in hul jongste wedstryd in die reeks met 41-0 teen Pniël Villagers gewen.

“Oorheersing voorlangs en en ʼn goed gestruktureerde wedstrydplan was die sleutel tot die oorwinning.

“Dale van Schalkwyk, Shuaib (Bom” Samaai) en Stewart Jacobs, almal agterspelers, was die uitblinkers op die dag se spel, en hulle het grootliks baat gevind by die stewige aanvalsplatform wat die agttal geskep het.

Van Schalkwyk (twee), Jacobs, Samaai, Daniel Roberts en Marvin Fransman het die Tiere se drieë gedruk. Deon Taljaard het vier verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

Lesch sê dit was Tygerberg se eerste ligawedstyd en dít was ooglopend.

“Ons het met tye te los en ongestruktureerd gespeel, maar sal verbeter na gelang die seisoen vorder.

“Die lojaliteit van ons ondersteuners is natuurlik deel van die suksesresep. Hulle het in groot getalle Pniël toe gereis om ‘ʼn tuiste weg van die huis af’ vir die span te skep.”

Superliga B

♦ Matt Rockhill, Villager se nuusbriefredakteur, berig die klub van Brookside het die naweek drie uit sy vier kragmetings teen die Paarlse span Young Peoples gewen.

Die eerste span het met 38-24, die tweede met 29-14 en die derde met 7-5 gewen. Young Peoples se o.20A-span het met 26-24 gewen.

Rockhill sê Villager se eerste span het in die eerste helfte goed gespeel, maar in die tweede helfte ietwat uitgesak.

“In weerwil van die vyf ligapunte wag daar nog harde werk om die span se volle potensiaal te ontsluit.

“Die spelers kan hulle nie bloot op oefendae verlaat nie, maar sal die opoffering moet maak om bykomende tyd aan fiksheid te bestee.”

Die spelers van die wedstryd was Brodie Blows (eerste span), Akram Hassiem (tweede span) en Allie Williams (derde span).

Superliga C

♦ In die Superliga C het Macassar met 27-13 in ʼn wegwedstryd met Strand United klaargespeel.

Darrin Roman, die skakelbeampte van Macassar, sê ʼn begeesterde terugvegpoging in die tweede helfte het verseker dat Macassar die eerste van vier derbystryde vanjaar wen.

Hy sê die besoekers moes ʼn rustydagterstand van 3-15 in die tweede helfte uitwis, en die wedstryd was in die weegskaal tot ʼn rooikaartoortreding Macassar in staat gestel het om dit uit te buit, en die wedstryd teen 14 man met ʼn bonuspunt te beklink.

“Ek stel my aan kritiek bloot, maar glo Macassar se spelers is ver by hul beste verby.

“Die span het die potensiaal om die liga met sy talentvolle spelerspoel uitmekaar te hardloop.

“Tog verg aspekte soos swak dissipline by die afbreekpunte veral in die eerste helfte; ʼn traagheid om die baldraer te ondersteun; en die skeidsregters se onverbiddellikheid ten opsigte van hoogvatte dringende opskerping. Veral Dillyn Booysen was Saterdag in laasgenoemde opsig aan die ontvangkant.”

Roman sê hy kan darem ook nie afbreuk doen aan die oorwinning in ʼn derbywedstryd nie.

Trots

“Party spelers hou week ná week met goeie vertonings vol, en doen die span se reputasie gestand. Dis gewis iets waarop die span trots kan wees, en gaandeweg aan kan skaaf om ʼn slag die liga te wen.

“ʼn Paar veranderinge aan die span het ook tot sy verbetering meegewerk.

“Die nuwe skakelpaar, Carlo le Roux en Jovan Cookson, het puik gekombineer; en goeie voorspelerspel het ʼn stewige platform vir die agterlyn geskep.

Lynson Andries (slot) en Gurston Cupido (agsteman) het met die bal in die hande geskitter, en hulle het soos kolosse verdedig,” berig Roman.

“Die nuweling Wiseman Louw het sterk na vore getree en het ʼn aandeel in twee van Macassar se drie drieë gehad. Hy het opvallend goed met Andy de Bruin in die middelveld gekombineer.

Uitsonderlike vaardighede

“Laasgenoemde het opnuut sy uitsonderlike stel vaardighede vertoon in ʼn goed afgeronde individualistiese stukkie spel wat die bonuspunt verseker het.”

Roman sê Booysen se geel kaart ten spyt was hy ʼn ster. Hy begin hom as vleuel vestig, en sy veelsydigheid tree toenemend na vore.

Macassar het die Paasnaweek ʼn loslootjie, maar daarna wag ʼn strawwe kragmeting teen Busy Bees.
Franklin Gaobone, Cookson, Booysen en De Bruin het die wenspan se drieë gedruk.

Le Roux het een verdoel en met ʼn strafdoel geslaag, en Bradley Daniels het nog een verdoel.

Paarlliga

♦ Chris Andrews, die hoofafrigter van Albions, laat weet sy span het in die Paarlliga met 10-40 teen Allandale verloor.

Die senter Melvin (Dikkie) Visser (senter) was meesterlik met sy kraglopies in die middeveld, en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

“Die alomteenwoordige Pallie Krieling (slot en kaptein) was briljant,” sê Andrews.

“Aan die keersy sal Albions se lynstaanspel en verdediging opgeknap moet word.”

Ronnie Arendse (haker) het ʼn drie vir Albions gedruk. Curtley Davids het dit verdoel en ʼn strafskop oorgeklits.

Albions speel ná die Paasnaweek teen die sesmalige streekkampioen, Agter-Paarl.

Noorderliga

Riaan Pietersen, die hoofafrigter van Stellenbosch Coronations, laat weet sy span het Imiqaya met 54-0 afgestof.

“Inklimspel deur Coronations se voorspelers en ondernemende spel deur die agterlyn het die groot verskil gemaak.

“Damian Gabriels wat welverdiend die speler van die wedstryd, en Elrico Appollis en Athon Arnolds het eweneens baie goeie spel gelewer.

Lindsey Williams, Appollis (twee) Chris Mostert (twee) Evan Gabriels, Riyaad Adonis en Hennie Pietersen het Coronations se drieë gedruk.

Arnolds het sewe uit die agt verdoel vir ʼn persoonlike bydrae van 14 punte.

Ander uitslae –

Superliga B

Rangers 31, Franschhoek 24; Hamlets 40, Paarl 34; Bellville 55, Collegians 24.

Superliga C

Strand 26, Hamediehs 25.

Paarlliga

Paarl Rangers 36, Young Standards 32;Simondium 67, Young Gardens 27; Agter-Paarl 81, Windmeul United 14; Violets (Paarl) 24, Riverstones 24.

Stadsliga

Western Zebras 20, Polisie 16; Perseverance 20, Watsonia 0; Masiphumelele 18, Silvertree 0; Technikon-Tuine 39, Temperance Cities 17; Young Ideas 30, Progress 21; Manenberg Rangers 33, Caledonian Roses 7.

Suiderliga

Peninsula 19, Titans 14; Rocklands 43, Young Brothers 0; Noordelikes 39, Bishop Lavis 13.

Noorderliga

Whistling Wheels 52, Strand Pioneers 12; Eersterivier 37, Khayelitsha 0; Blue Stars United 41, Blakes 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.