WP-liga: vinger trek vir Durbell teen Hammies

durbell-logo.squareVrydag se Superliga A-wedstryd tussen Durbanville-Bellville en Hamiltons in Durbanville is van deurslaggewende belang vir die tuisspan en houer van die SA oop klubs se Goue Beker.

Die kampioen is tans met 29 ligapunte vierde in die Westelike Provinsie se topreeks, terwyl Hammies met 36 tweede is.

Valsbaai is die voorloper (41) en Tygerberg derde (33).

Durbell sal dus moet vinger trek as hy sy plek tussen die voorstes wil vestig, en kan nie daarop staatmaak dat hy dusver twee-drie wedstryde minder as die topdrie gespeel het nie.

Die Durbies het verlede Saterdag 58-17 weg van die huis af teen Sir Lowrians gewen, nadat hulle rustyd 39-3 voorgeloop het.

Darron Nagel, die ondervoorsitter van Durbanville-Bellville, sê volgehoue balbesit en die vermoë om voortdurend aanvalsplatforms oorkant die voordeellyn te skep, het die grondslag vir die span se sukses gelê.

“Saterdag se grootse kliniese vertoning was `n stap in die regte rigting nadat dit vroeër in die seisoen soms ontbreek het.”

Jason Kriel (vleuel) het  `n driekuns behaal en Jos Malherbe (senter) het hom puik in die vernietiging van die teenstanders se verdediging onderskraag. Die ander vleuel, Cheslyn Roberts, het eweneens `n skitterwedstryd beleef. Angus Cleophas was bestendig met sy skopvoet en het 16 punte (vyf doelskoppe en twee strafdoele) aangeteken.

Jacques Vermaak (haker) en Christie Van Niekerk (flank) was albei uitmuntend, en Kriel (agter) en Vermaak (voor) is as die spelers van die wedstryd aangewys.

Die tweede span het van sy skoknederlaag van 5-6 teen NNK herstel en Sir Lowrians gemaklik 40-10 geklop. Die onoorwonne derde span was 70-0 baas; en die eenrigtingverkeer van die o.20-wedstryd is ná slegs 27 minute gestaak toe Durbell reeds 49-0 voor was.

Hamiltons het Saterdag sy krag getoon toe hy die voorloper en Goue Bekerspan Valsbaai tot `n gelykop uitslag van 24-24 op Philip Herbsteinpark in Constantia gedwing het. Hammies was rustyd 18-14 voor.

Valsbaai-logoJon Harris, die woordvoerder van Valsbaai, sê die kragmeting was uiters fisiek en is uit die staanspoor in `n hoë tempo beslis.

Mustaqeem Jappie (vleuel),  Byron Mohr (senter) en Royal Mwali (haker) het Valsbaai se drieë gedruk en Andri Claassen (losskakel) het al drie verdoel. Adnaan Osman (heelagter) het met `n strafdoel geslaag.

Vir Hamiltons het Monty Dumond (losskakel) 14 punte met `n doelskop en vier strafdoele behaal en Harlon Klaasen (senter) twee drieë gedruk.

Harris sê Valsbaai se stutte, Wesley Chetty en Ashley Wells, was prominent, eersgenoemde in die los, laasgenoemde in die span se verbeterde skrumwerk namate die wedstryd gevorder het.

“Die agsteman, Ryan Olivier, kon eenvoudig nie misgekyk word nie, en die immergroen Justin van Winkel het sy taak deeglik en sonder ophef verrig. Die plaasvervanger-haker, Royal Mwali, is `n juweel – sy vaardighede is yslik, en hy het die Baai se derde drie gedruk.

“Osman was standvastig in die laaste vesting, onbesonge gehalte, nes die plaasvervanger-skrumskakel, Ridhaa Damon. Laasgenoemde het Dylon Frylinck vervang, wat self uitstekend was. Die twee se styl verskil, maar hulle het `n ewe groot inslag op die spel,” het Harris aan Pale Toe! gesê.

“Vir Hammies het sy agsteman Jody Burch sy gewone robuuste spel gelewer, die senters Klaasen en Morgan Newman was `n volgehoue bedreiging, en Dumond het sy gebruiklike meesterlike vertoning gelewer. Voorlangs was die flank Gareth Rowe bedrywig, en sy afwesigheid is terdeë gevoel toe hy laat in die wedstryd vervang is.

villager-logoSuperliga B

In die Superliga B het Villager vir St Georges 32-21 in `n ysige wind op Gustrouw geklop.

Luidens die klub se nuusbrief het Villager indrukwekkend balbesit behou en dit moeiteloos deur die fasespel beweeg om vinnige besit aan die agterlyn te verseker.

Donald Crawford, Nick Vetsos en Kwaks Ngwanya tel onder Villager se driedrukkers. Dan Clarke het 12 punte met drie doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Crawford, wat byna na willekeur deur die verdediging se agterlyn gesny het, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Superliga C

Op Vygieskraal in Athlone het die besoekende Young Stars merkwaardig teruggeveg om `n rustyd-agterstand van 0-10 en `n sterk wind van voor te bowe te kom en Hamediehs 26-16 te troef.

Young starsEbrahim Samaai, die voorsitter van Young Stars, laat weet Hamediehs se dodelike verdediging het gekeer dat Stars in die eerste helfte punte kry.

“Ná die omdraaislag en teen die sterk wind in het Stars groter geduld aan die dag gelê en het Anthony Taylor onder die pale gaan druk vir Heinrich Arendse om te verdoel (7-10). Stars het daarna twee strafdoele afgestaan (7-16).

“Hierop het Stars se voorspelers die beheer oorgeneem en met groter vuur gespeel. Omkeerbesit op die middellyn is vinnig laat loop na die linkervleuel, Ashley Henricks, wat binnetoe en buitentoe geswenk het om vier verdedigers  te klop voor hy onder die pale gaan druk het. Arendse was in die kol met die doelskop (14-16).”

Hy sê Stars het die oorwinning geruik en met 12 minute oor die tempo versnel. Taylor het weer onder die pale gedruk en Arendse het verdoel (21-16).

“Met die tyd wat min geraak het, het Stars alles in die stryd gewerp om `n vierde drie vir die bonuspunt te druk. Die regtervleuel, Fabian van der Vent, het sake beklink toe hy in die hoek gedruk het (26-16).”

Taylor, Henricks, Lambertus Nel en Dillion Farao was YoungStars se grootste uitblinkers, laat weet Samaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.