WP-liga: voorste spanne kou klippe in Super A

Die meeste van die voorste spanne in die Westelike Provinsie (WP) se Superliga A moes Saterdag buitengewoon hard werk om te wen.

Die Goue Bekerspan Valsbaai het twee strawwe wedstryde in vyf dae gespeel en moes in albei gevalle hard werk om die Viktoriane Dinsdag 31-22 (rustyd 0-22) en Schotschekloof Walmers (SKW) Saterdag 11-10 te klop; Hamiltons het Brackenfell met moeite 38-28 geklop; en Stellenbosch kon laat eers die seël op sy sege van 31-20 oor die Universiteit van Kaapstad plaas.

Al uitsondering was die Goue Beker-kampioen, Durbanville-Bellville, wat die agteros, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), 29-8 geklop het.

♦ Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê die span is versterk met die terugkeer van sleutelspelers soos Waldo Prinsloo (slot) and Raymond Olivier (heelagter). Laasgenoemde het verlede jaar die meeste punte in die oop klubs se nasionale reeks aangeteken.

Die UWK het eerste met `n strafdoel geslaan, maar die Durbies het met drie opeenvolgende drieë deur Olivier, Prinsloo en Jacques Vermaak teruggeslaan. Olivier het twee verdoel en met `n strafdoel geslaag om rustyd 22-3 voor te loop.

Nagel sê Durbell se dissipline het hom in die tweede helfte in die steek gelaat en hy het 22 strafskoppe afgestaan en twee geel kaarte op die lyf geloop.

“Dis gewis iets waarop die hoofafrigter, Bobby Joubert, vandeesweek sal konsentreer.”

Karel Liebenberg het die wenspan se enigste tweedehelftedrie gedruk Olivier het dit verdoel om sy bydrae op 14 te staan te bring.

Die studente het laat in die wedstryd `n drie gedruk, maar toe was die koeël al deur die kerk en Durbell het die derde keer agtereenvolgens met `n bonuspunt gewen.

Die tweede span bou goeie stukrag op en het maklik 42-6 gewen; en die derde is steeds onoorwonne ná `n indrukwekkende sege van 52-0.

Die o.20A-span was die eerste keer vanjaar 30-14 aan die wenkant.

Vrydag het die Durbies Blues danksy `n laat strafdoel deur Jimmy Sharper vir Villager IV 15-12 geklop; en die Ikeys se o.20B-span het sy Durbell-portuur 26-13 geklop.

Nagel sê ondanks die skoonskip wat die Durbell-spanne teen die UWK gemaak het, is daar heelwat ruimte vir verbetering voor die komende Saterdag se wedstryde teen Primrose in Kenilworth.

Die klub se oumanspan is ook weer vandeesweek in aksie wanneer hy Donderdag tuis teen Helderberg Crusaders speel.

`n Rugbyvasvra en veiling word Woensdag 25 Mei by die klub gehou om geld in te samel vir die Durbell Oumanne wat in September aan die nasionale Goue Ouetoernooi in Welkom gaan deelneem.

Kaartjies kos R250 stuk of R2 500 per tafel van tien, snoepborde ingesluit. Belangstellendes kan met die klub by

[email protected] skakel.

Baai slaag in strawwe toetse

♦ Jon Harris, die woordvoerder van Valsbaai, berig DirectAxis Valsbaai het twee uiterste toetse deurstaan deur die Viktoriane op Stellenbosch en SWK in Constantia te troef.

Hy is ná ses wedstryde steeds onoorwonne.

“Daar word dikwels gesê die beste manier om die studentespanne in die Superliga A te klop, is deur harde, fisieke voorspelerspel met die gedagte dat die studente onder die aanslag sal swig. Met een van die beste agttalle in die liga was dit dus ook die Baai se voor die hand liggende en enigste plan teen die Viktoriane.

“Dit wil egter voorkom of Louis Blom, die gewese WP-yster en afrigter van die Viktoriane, nie van dié opvatting kennis geneem het nie. Sy jong, groot en sterk voorspelers, met die slotte Basil Liebenberg en Lourens Fick aan die voorpunt, het in die eerste halfuur eenvoudig alle teenstand voor hulle weggevee.”

Harris sê veral Liebenberg het die bal met verbete selfversekering gedra en sy mede-voorspelers aangespoor om ruimte vir die agterlyn te skep om na willekeur aan te val.

Die senters Altus Momsen en Willie Smal het in die tydperk wanorde gesaai en Valsbaai was 0-22 agter te danke aan drieë deur die flank Mitchell Karstens, die skrumskakel Jacob Louis, en Momsen. Die losskakel, Jonty Bredell, het twee verdoel en met `n strafdoel geslaag.

Die Baai kon darem voor rustyd herstel nadat die losskakel Andri Claassen `n strafdoel behaal het en die Baai se voorspelers `n houvas op die spel begin kry het.

Die ratse skrumskakel Dylan Frylinck het die span met sy steellopies op die voorvoet geplaas en die agsteman, Ryan Olivier, wat weer goed op dreef is, se vaart het hom ná `n tikskoppie onder die pale oor die doellyn gevoer.

Die rustydtelling was 22-10 en Valsbaai het van die afskop af oorheers, aangevoer deur Frylinck en later die meesterlike Ridhaa Damon.

Die Baai se voorry, Wesley Chetty, Vlam van Vuuren en Ashley Wells, het die grondslag gelê. Veral Wells was meedoënloos in die klassieke vaskoprol.

Byron Mohr, die Baai se veteraansenter, het die teenstanders die hakke gewys en 30 meter ver vir `n drie genael en sy span het halfpad deur die tweede helfte die voortou met `n strafdoel deur Claassen geneem.

Die senter Ryan O’Neill, wat puik vertoon het, het die bonuspuntdrie kort voor die eindfluitjie gedruk. Claassen het dit verdoel.

t Harris sê die wedstryd teen SKW het 80 minute se moordende rugby opgelewer – en die fisieke spel was nie tot die voorspelers beperk nie.

Albei spanne het skouspelagtige losspel van die boonste rak gelewer.

Kloof, se slotte,Madeeg Davids en Abubaker Davids, het die aanslag voorlangs gelei en die senters Danwill Erasmus en Meekaeel Hartley het deurgaans die Baai se verdediging met hul vlymskerp kraglopies getoets.

Harris sê die bloedstryd teen die Viktoriane het sy tol van Valsbaai geëis, maar niks kan afbreuk doen aan die besoekers se goeie spel nie.

`n Puik drie deur Chetty en strafdoel deur Claassen het die tuisspan rustyd 8-0 laat voorloop.

Erasmus het `n drie vir SKW gedruk en die losskakel, Yasir Davids, het dit verdoel en met `n strafdoel geslaag om die besoekers tot die tuisskare se skok 10-8 te laat voorloop.

Die heelagter, Adnaan Osman, `n gewese Kloof-uitblinker, het `n uitmuntende vertoning afgerond deur die wenpunte met `n strafdoel te behaal.

Meer durf en vuur

♦ Tygerberg het Belhar 36-19 op laasgenoemde se tuisveld geklop.

Bronson Weir, die senior afrigter van Belhar, sê Tygerberg het met meer durf en vuur gespeel en `n sege voor `n skare van 10 000 sterker as die tuisspan nagejaag.

Hy sê Reagan Petersen, Belhar se haker en kaptein, het uitmuntend vertoon en die slot Justin Jacobs het in die vaste fasette uitgeblink.

Mandla Dama, Angelo Nelson en Ivor van der Merwe het vir Belhar se punte gesorg.

Superliga B

In die Superliga B het St Georges vir Kraaifontein 26-22 op laasgenoemde se tuisveld geklop.

Anthony Lambrechts, `n woordvoerder van Kraaifontein, sê dit was `n brute stryd met St Georges wat aanvanklik in die skrums gesukkel het.

“Kraaifontein het dit maklik vir St Georges gemaak om te verdedig en die besoekers verdien lof vir die wyse waarop hulle Kraaifontein se foute uitgebuit en in punte omskep het.

“Hoewel die verdediging veel te wense oorgelaat het, moet St Georges erkenning kry vir sy terugvegpoging wat die wedstryd in die laaste 30 sekondes beklink het.”

Lambrechts sê Kraaifontein se voorhoede het `n reusebydrae gelewer en St Georges is in die skrums gefolter. Die slotte Helgardt Van Wyk en John Sheapard het bo die res uitgetoring.

Benewens `n briljante drie deur Xander Kuys het Dawie Dyson en Anton Lambrechts vir Kraaifontein agter die doellyn gaan kuier. Michael de Boer het twee hiervan verdoel en met `n strafdoel geslaag.

♦ Villager het Strand ondanks `n moeilike wind 19-10 op Gustrow geklop, maar Strand se tweede span het 20-10 gewen.

Luidens Villager se nuusbrief het sy eerste span besit en gebiedsvoordeel oorheers, maar gesukkel om deur die tuisspan se gedugte verdediging te dring.

Elk van die spanne het voor rustyd `n drie gedruk, maar Junaide Josephs het op ongewone wyse Strand se doelpoging verydel deur die bal voor die dwarslat te vang. Dit het Villager met die omdraaislag 7-5 laat voorloop.

Zubs Abrahams (skrumskakel), Ashley Clarke en Nic Wood (haker) het die wenspan se drieë gedruk en Daniel Clarke het twee verdoel.

Die stut Nic Vetsos is die tweede keer vanjaar as die speler van die wedstryd aangewys – die eerste keer dié seisoen dat hy nie `n drie kon druk nie.

Brandon Hammon (stut) en Jannie Bester (flank) het die tweede span se drieë gedruk.

Superliga C

♦ In die Groenpunt-atletiekstadion het Young Stars 25-25 gelykop teen Strand United in `n kragmeting in die Superliga C gespeel.

Ebrahim Samaai, die wedstrydsekretaris van Young Stars, sê Stars het bra lusteloos vertoon en die grootste deel van die wedstryd agter geloop.

Met Strand United 20-11 voor en Stars se onorwonne tuisrekord van drie jaar in gedrang, het die tuisspan in die laaste 15 minute die kastaiings uit die vuur gekrap.

“Stars het met `n reuse-skrumpoging `n vaskopbal gewen en die senter Anthony Taylor het in die hoek gaan druk. Die drie is verdoel en die agterstand het tot 15-20 gekrimp.

“Swak verdediging deur Stars het Strand in staat gestel om nog `n drie te druk en 25-18 voor te loop.

“Stars het uit elke moontlike hoek met die bal gehardloop en uiteindelik weer in die hoek gedruk. Die losskakel, Heinrich Arendse, het die gelykmakende punte van die kantlyn af behaal.”

Samaai sonder Fabian van der Vent (heelagter), Taylor en Arendse as Young Stars se sterre uit.

Taylor het twee en Van der Vent een drie gedruk. Arendse het 10 punte met twee elk doelskoppe en `n strafdoel behaal.

Noorderliga

♦ Charles Williams, die voorsitter van Van der Stel, berig die Stellenbosse span het sy dorpsgenoot Blakes 14-0 geklop.

“Goeie dryfspel deur Van der Stel se voorspelers en baie goeie verdediging deur die Van der Stellers in `n baie strek wind het die grondslag vir die oorwinning gelê.”

Tussen die voorspelers het die losvoorspelers, die kaptein, Charles Williams jr, Rashaad Williams en Fabian Adonis asook die voorryman Jemaine Arnold en die slot Schalk Smith die oog gevang, met Elrico Februarie (losskakel), Hilton van der Vent (senter) en Lorenzo Claasen (heelagter) wat in die agterlyn uitgeblink het.

Charles Williams jr en Matthew Kiewitz het van der Stel se drieë gedruk en Nappies Cornelson het albei verdoel.

♦ Dawid Paulse, `n woordvoerder van Atlantis, laat weet hegte verdediging het sy span gehelp om  Stellenbosch Coronations 21-15 te verslaan.

Dean Henderiks, B Amsterdam, G Abrahams en G Adonis het vir Atlantis uitgeblink.

Atlantis se tweede span het 17-10 gewen en die derde spanne het 9-9 gelykop gespeel.

Ander uitslae –

Superliga A

Viktoriane 45, Sir Lowrians 10; Kuilsrivier 36, NNK 23.

Superliga B

Young Peoples 27, Goodwood 17; Violets 20, Macassar 14; Unie-Milnerton 34, Helderberg 6; Hamlets 35, Hands & Heart 26; Pniel Villagers 28, Bellville 26.

Superliga C

Silverleaf 20, Scottsdene-Sentraal 17; Raithby Universals 32, Lagunya 28; Elsies River United 16, Masiphumelele 7; Langa 17, Paarl 14; Kylemore 46, Blue Jets 8; Rangers 42, Hamediehs 13.

Stadsliga

Temperance Cities 8, Watsonia 8; Polisie 13, Silvertree 12; Perseverance 17, Manenberg Rangers 0.

Suiderliga

Rocklands 29, Thistles 3; Eersterivier 13, Retreat 12.

Noorderliga

Vineyards 24, All Saints 8; Strand Pioneers 20, Delft 5.

Paarlliga

Violets (Paarl) 27, Young Gardens 21; Allandale 69, Windmeul United 19; Simondium 53, Riverstones 0; Agter-Paarl 70, Pêrel United 0; Paarl Rangers 29, Albions 24.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.