WP-liga: vroeë vuurdoop vir nuweling in A-reeks

Een van die nuwelinge in die Westelike Provinsie se Superliga A, Unie-Milnerton, kry sy vuurdoop sommer vroeg-vroeg in die reeks.

Hy speel Saterdag op sy tuisveld, Theo Maraispark, teen Durbanville-Bellville, die vorige houer van die Suid-Afrikaanse oop klubs se Goue Beker.

Dis die eerste keer in sy bestaan dat UniMil A-status geniet, en hoewel die wedders nie juis hul geld op hom sal waag nie, kan verwag word dat hy alles in die stryd sal werp om sy bevordering te regverdig.

Die grootste taak wag egter Saterdag op Hamiltons wat op die Stephen-ovaal in Groenpunt teen Valsbaai, die WP-kampioen en ʼn Goue Bekerfinalis van verlede jaar, te staan kom.

Die Baai het verlede jaar verras deur die Universiteit Stellenbosch as die bond se kampioen te onttroon, en het indrukwekkend in die reeks om die Goue Beker vertoon.

In die ander wedstryde in die Superliga A speel Schotschekloof Walmers teen Brackenfell (Groenpunt-atletiekstadion), Primrose teen die Victoriane (Rosmeadlaan), en Pniël Villagers – die ander nuweling – teen Tygerberg (Pniël).

Superliga B

Van die nuwelinge in die Superliga B het Franschhoek die strafste taak waar hy Kraaifontein op dié se tuisveld aandurf.

Paarl kry op Lentegeur teen Collegians die geleentheid om te toon of hy sy terugvegpoging na die klub se eertydse glorie in die B-afdeling kan voortsit.

Rangers durf St Georges, wat ʼn seisoen of wat gelede nog in die A-liga was, op Gustrouw aan.

Die ander wedstryde is tussen Helderberg en Violets (Charles Morkelstadion), en die afgeskuifde Sir Lowrians en Villager (Sir Lowryspas).

Superliga C

Die drie nuwelinge in die C-afdeling, Vineyards, All Saints en Busy Bees speel onderskeidelik teen Macassar (Macassar-sportterrein), Hamediehs (Vygieskraal) en Strand United (Abattoir).

Die ander wedstryde is tussen Goodwood en Strand, wat albei verlede jaar afgeskuif is (Goodwood), Raithby Universals en Langa (Raithby-sportterrein), en tussen Lagunya en Young Stars (Langastadion).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.