WP-liga: vyf spanne nog onoorwonne in Super A

durbell-logo.squareVyf spanne is ná die eerste ses weke van die Westelike Provinsie (WP) se Superliga A nog onoorwonne.

Die Goue Bekerspan Valsbaai (ses wedstryde), Tygerberg, Hamiltons, Stellenbosch (almal vyf wedstryde) en die oop klubs se nasionale kampioen, Durbanville-Bellville (vier wedstryde) is nog nie vanjaar geklop nie.

♦ Darron Nagel, die ondervoorsitter van Durbell, sê daar was nooit twyfel by die span dat die kragmeting Saterdag teen Primrose op Rosmead uiters fisiek sou wees nie. Durbell het 24-0 gewen, maar `n bonuspunt misgeloop.

Conway Pretorius het die Durbies se eerste drie gedruk. Raymond Olivier het dit verdoel en `n strafdoel bygevoeg om die rustydtelling 10-0 vir die besoekers te maak.

“Die skrums was `n groot bron van frustrasie, met die skeidsregter wat die agttalle gedurig laat oor skrum het, en die wedstryd wat gevolglik nie na behore kon vloei nie.”

Nagel sê die tweede helfte was grootliks `n voortsetting van die eerste, met die Durbies wat die een ná die ander aanval van stapel laat loop het.

“Die aanvalle was soms te skuins oor die veld, wat dit makliker vir Primrose gemaak het om te verdedig. Die tuisspan se verbete verdediging verdien egter lof. Hulle het geen oomblik teruggestaan nie en hulle puik van hul taak gekwyt.”

Waldo Prinsloo het die tweede drie van die wedstryd gedruk, maar is kort daarna met `n kniebesering van die veld af. Die erns daarvan sal vandeesweek bepaal word. Olivier het die drie verdoel.

Kort voor die eindfluitjie het Angus Cleophas ná `n stukkie vinnige dinkwerk na aan die Primrose-doellyn Durbell se derde drie gedruk. Olivier het ook dié een verdoel.

Die tweede span het sy spelpeil `n trappie gelig en oortuigend 50-0 gewen. Arnoldus Loubscher, Tiaan Roelofse en Daneel Botes was maar `n paar van die uitblinkers. Die eerstespansenter Tiaan Radyn het `n welkome terugkeer van 45 minute gemaak sonder `n negatiewe uitwerking op sy herstelde knie.

`n Laatkommer-skeidsregter het veroorsaak dat die onoorwonne derde span se wedstryd 45 minute laat begin het en tot helftes van 20 minute elk beperk. Die span het hom nie van stryk laat bring nie en 22-0 (met `n bonuspunt) gewen.

Die Blues het op Philip Herbsteinpark in Constantia groot slae van 14-35 by Valsbaai IV, die voorloper in die Reserweliga, gekry.

Vrydag het die Durbell-oumanspan `n taai kragmeting teen Helderberg Crusaders welverdiend 1-0 gewen. Die staatmaker Werner (Mot) Grundlingh het die enigste drie van die wedstryd gedruk.

`n Administratiewe blaps het die o.20A-span sy wedstryd gekos toe die spelerskaarte nie by die veld was nie. Nagel sê samesprekings sal vandeesweek plaasvind om te probeer reël dat die bepaling later gespeel word.

Die o.20B-span het Woensdag sy Milnertonse eweknie naelskraap 20-19 geklop.

Durbell speel Vrydag op Groenpunt teen Schotschekloof Walmers in wat beloof `n uitdagende en strawwe kragmeting sal wees.

t Woensdag 25 Mei bied die klub `n rugbyvasvra en veiling aan om geld vir die Durbell-oumanne in te samel om in September in Welkom aan die nasionale goue ouesfees deel te neem.

BelharKaartjies kos R250 stuk of R2 500 per tafel van tien. Dit sluit snoepborde in.

Nadere besonderhede kan van [email protected] bekom word.

♦ Bronson Weir, die senior afrigter van Belhar, laat weet sy span het die Universiteit van Wes-Kaapland 21-14 op die studente se tuisveld geklop.

Reagan Petersen en Joel Booysen het Belhar se drieë gedruk en Dennis Cox het met `n doelskop en drie strafdoele geslaag (11 punte).
UWK se tweede span het 13-6 gewen, maar Belhar se derde het 8-5 en die o.20s 31-27 gewen.

Superliga C

Ebrahim Samaai, die voorsitter van Young Stars, berig sy span het Elsies River United (ERU) 21-10 op Elsiespark geklop.

Young starsHy sê Shuan Vaughan en Anthony Taylor het Stars se verdedigingstelsel goed beheer en die nommer 6-flank, Aphelele Mgaga, in staat gestel om telkens omkeerbesit te wen, waarvan teenaanvalle van stapel laat loop kon word.

Mgaga is as die speler van die wedstryd aangewys.

Mlibongwe Mlamli en Taylor het Stars se drieë gedruk en Heinrich Arendse het 11 punte (`n doelskop en drie strafdoele) op die telbord geplaas.

♦ Edmund Lewis, die wedstrydsekretaris van Paarl, rapporteer dié klub het Saterdag op Boy Louwpark skoonskip teen Silverleaf gemaak en al die spanne het bonuspunte verdien.

Die eerste span het 29-9, die tweede 47-5 en die derde 24-0 gewen. Die o.20s het punte van Silverleaf ontvang.

“Die eerste span kon in die eerste helfte nie juis aan die gang kom nie aangesien die skeidsregter albei spanne herhaaldelik gestraf het,” sê Lewis.

“Paarl het rustyd 17-6 voorgeloop.

“Beter samespel en dryfwerk deur die voorspelers in die die tweede helfte en die feit dat die agterspelers reguit gehardloop het, het die wedstryd in Paarl se guns beklink.”

Lewis sê die losskakel, Malcolm Theo, was goed op dreef.

“Hy het sy spel goed afgewissel en talle gapings in die teenstander se agterlyn geslaan. Hy het ook die span se laaste drie gedruk.”

Die res is deur Ossie Thomas, Jerome Visagie en Aulante Losper gedruk. Die skrumskakel, Jacobus Hendriks, het nege punte (drie doelskoppe en `n strafdoel) bygedra.

Opgesomde punteleer –

Superliga A

Stellenbosch 21, Brackenfell 10; Tygerberg 30, Viktoriane 3; Universiteit van Kaapstad 20, Schotschekloof Walmers 17; Stellenbosch 83, Sir Lowrians 5.

Superliga B

Helderberg 39, St Georges 18; Unie-Milnerton 32, Pniel Villagers 29; Macassar 35, Collegians 24; Bellville 24, Kraaifontein 7; Hands & Heart 50, Strand 28; Hamlets 31, Young Peoples 12; Violets 17, Goodwood 8.

Superliga C

Kylemore 29, Strand United 16; Scottsdene-Sentraal 34, Franschhoek United 30; Rangers 16, Langa 10; Raithby Universals 50, Hamediehs 18.

Stadsliga

Western Zebras 13, Technikon-Tuine 6; Young Ideas 46, Watsonia 5; Technikon-Tuine 34, Silvertree 14; Caledonian Roses 25, Polisie 6; Busy Bees 43, Perseverance 15; Manenberg Rangers 35, Progress 15.

Suiderliga

Young Wesleys 28, Titans 9; Eersterivier 32, Thistles 15; Rocklands 22, Peninsula 19.

Noorderliga

Vineyards 93, Delft 0; Blue Stars United 40, Blakes 22; All Saints 33, Van der Stel 13.

Paarlliga

Young Gardens 27, Windmeul United 14; Violets (Paarl) 21, Riverstones 15; Agter-Paarl 35, Paarl Rangers 20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Evert Jacobs ·

Is ERU die enigste span in die Valke liga waaroor julle kan skryf.Dit is seker n ontnugtering vir julle dat hulls n drag slae gekry het die naweek teen Brakpan en daarom geen melding not gemaak in julle nuus nie .Met so groot sponsor en kopies van die Kaap af sou daar baie meer van hulle verwag word

Wim van der Berg ·

Daar is `n oop uitnodiging aan elke Valke-klub (trouens, aan elke klub in Suid-Afrika) om sy nuus vir Pale Toe! te stuur. Dit word boonop gereeld onder die klubs se aandag gebring. As ERU gereeld nuus stuur en die ander klubs nie, moet u dit eerder met u klubs opneem as om jaloers te wees op die beriggewing wat ERU kry omdat sy beriggewer op en wakker is. Die ERU-berig oor die Brakpan-wedstryd is in Pale Toe! se in-mandjie en sal gewis verskyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.