WP-man se Switsers klop Blou Bul se Pole

Switserland, met ʼn Westelike Provinsie-man as hulpafrigter, het Saterdag die Pole, met ʼn Blou Bul-man as hoofafrigter, in die reeks om die Rugby Europatrofee geklop.

Die Switsers het die kragmeting in Warskou met 22-12 gewen.

Eric Mellville, ʼn gewese WP-B- en later Franse toetsspeler, is Switserland se voorspelerafrigter, terwyl Blikkies Groenewald, die voorsitter van die Blou Bulle se afrigtersvereniging, die Pole brei.

In weerwil van dié uitslag het die Pole derde in die reeks geëindig en die Switsers vierde.

ʼn Onoorwonne Portugal het die reeks gewen, en Nederland, eweneens met ʼn Suid-Afrikaanse afrigter, was tweede.
Groenewald se Pole en Gareth Gilbert se Here XV het die beste dissipline in die reeks gehandhaaf deur slegs twee geel kaarte elk in vyf wedstryde af te staan.

In Afdeling 2 Noord het Denemarke tuis in Odense met 53-5 teen Finland gewen.

Die Suid-Afrikaner Jaun Mioch, ʼn oudleerling van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, is Finland se voorspeler- en fiksheid-en-kondisioneringsagfrigter.

In nog ʼn wedstryd in dié afdeling het Hongarye tuis in Esztergom met 42-7 teen Noorweë in gewen.

Die Noorweegse losskakel, Adriaan Botha, is in Suid-Afrika gebore, maar het sy skool- en universiteitsloopbaan in Sydney, Australië, voltooi.

In ʼn wedstryd in Afdeling 1 Noord het Litoue tuis in Panevezys met 24-12 teen Luxenburg gewen; en in Afdeling 1 Suid het Malta met 39-17 in Kordin, Malta, teen Israel gewen.

In Afdeling 2 Suid het die tuisspan Bosnië en Herzegovina in Zenica met 21-10 teen Serwië gewen; en Oostenryk het Slowenië in Wenen met 13-0 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.