WP mors met futlose Leeus op Nuweland

In die Kaap is daar Vrydagaand met ongeloof verwys na die Goue Leeus se sogenaamde gebrek aan diepte.

Dit is snert. Dit is wel verstaanbare kommentaar ná die loesing van 39-3 wat die Westelike Provinsie die Leeus op Nuweland in ʼn Curriebekerwedstryd toegedien het.

Maar ʼn gebrek aan diepte? Nee. ʼn Gebrek aan toewyding, ook aan konsentrasie, en miskien ʼn traak-my-nie-agtigheid wat gelei het tot swak samespel, op die aanval sowel as die verdediging, het die Leeus werklik tweederangs laat lyk.

Die Leeus het met ʼn ervare span op die veld gedraf, wat met ʼn enkele uitsondering almal al Superrugby gespeel het. En die Leeus is immers die konings van Superrugby in Suid-Afrika.

Rustyd was die WP reeds 22-3 voor, ondanks die besit en gebied wat die Leeus in die eerste 40 minute geniet het. Die WP se goeie verdediging, en gepaardgaande foute deur die besoekers, het dit egter toe reeds eenrigting-verkeer gemaak.

Hulle hanteerwerk, ʼn gewaande sterkpunt, was heelwat swakker as middelmatig en die onvermoë om geleenthede te skep het algaande ingewerk op die span wat hoe later hoe vrotter vertoon het.

♦  Maar volpunte aan die WP. Hulle het soos tiere verdedig, hulle kanse gebruik en hulle Skotse senter Huw Jones het gewys dat hy weer reg is vir groot dinge oorsee ná sy besering.

♦  Die WP is nou ná ʼn stadige begin in die Curriebekerreeks in die derde plek op die punteleer en ná hulle goeie sege verlede naweek teen die Blou Bulle en nou teen die Leeus glo hulle nou hulle kan die Goue Beker hulle s’n maak.

Puntemakers –

WP (22) 39: Drieë: Huw Jones 2, Cobus Wiese, Seabelo Senatla 2, Jano Vermaak. Doelskoppe: SP Marais, Damian Willemse 2. Strafdoel: Willemse.

Goue Leeus 3 (3): Strafdoel: Jaco van der Walt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

In rugby gaan dit om kombinasies.Oorlede Dok Graven het mos gesê – een brljante speler
kan vasgevat word,maar goeie kombinasies maak ‘n plan.

Jy kan dus nie net 15 spelers al is hul goed op die veld stuur en resultate verwag nie.Dit is duidelik dat die Leeus nie oor werklike kwaliteit diepte beskik nie,redelik leierloos voorgekom het en al het hul by tye balbesit oorheers,niks met dit kon uitrig nie.

Op die vertoning wil dit vootkom of Ackerman die een was,wat die span kon inspireer tot
groter hoogtes en lyk dit of sy afwesigheid die mat onder die Leeus spelers uitgetrek het.

Bloues ·

Leeus speel ou bulle rugby en bulle speel leeu rugby. Swak patetiese gameplan Swys. Asb Asb kom by.

danie ·

Ek dink ons oorskat ons “diepte” oor die algemeen in SA rugby. Ons het dalk baie spelers maar daar is gewoonlik ‘n redelike gaping in kwaliteit tussen eerste, tweede en derde beste in die ry. ‘n Duidelike bewys is hoe ons A span gesukkel het teen die Engelse Saxons verlede jaar en natuurlik ook van ons spanne wat nie die mas opkom in superrugby nie. NZ het ‘n groter poel KWALITEIT spelers wat baie naby aanmekaar in standaard is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.