WP red uitspeelkanse twee minute voor einde

wp logoDie Westelike Provinsie, in ʼn rukkerige tweede rat, het Vrydagaand sy wedstryd op Nuweland teen die Boland Kavaliers 30-28 gewen en na die derde plek op die punteleer en Curriebeker-halfeindstryd deurgeskuur.

Dit was in die geheel vir die Westelike Provinsie nie ʼn oortuigende seisoen nie en Vrydagaand se wedstryd het dit beklemtoon dat daar miskien nie genoeg aandag aan diepte in die unie gegee word nie.

Die manne waarmee John Dobson moes werk na die verliese van spelers aan die Bokgroep en die vertrek van spelers oorsee was nie werklik opgewasse vir rugby op die vlak nie.

Maar hulle is deur na die halfeind, en dit sal groot trappe van verbetering noodsaak om oor twee weke op Loftus teen die Blou Bulle te wen.

♦  Die wenpunte is met minder as drie minute se speeltyd oor deur ʼn strafdoel van Robert du Preez beklink. Trouens, agt minute vor die einde was die WP nog 20-28 agter.

Die tuisspan was rustyd gerieflik 17-7 voor, maar die gevoel was toe reeds met rukke daar dat sake vir hulle kon skeefloop.

Hulle groot skrik het toe binne twee minute, sowat ʼn kwartier voor die einde, gekom toe die Boland twee keer gaan druk het. Theuns Kotze het albei en ook die vroeëre drieë, een voor en een na rustyd verdoel en die WP kon in die tyd net ʼn strafdoel deur Robert du Preez byvoeg. Die telling was skielik 28-20 en  die WP in die knyp.

Die Boland se skrum wat gereeld opgefrommel is en die WP se beheer van die afbreekpunte laat in die wedstryd het die deurslag gegee.

Die Boland se bonuspunt en amperse oorwinning het hul eerste seisoen in die Curriebeker se uitsoekafdeling sedert 2009 goed afgesluit. Hulle het hul teenstanders gereeld hard laat werk, twee oorwinnings behaal en bo die Pumas en die OP Kings op die punteleer geëindig.

Puntemakers –

Westelike Provinsie (17) 30: Drieë: Scott van Breda, Kobus van Dyk, David Ribbans. Doelskoppe: Robert du Preez 3. Strafdoele: Du Preez 3.
Boland (7) 28: Drieë: Shaun Adendorff, Adriaan Carelse, Francois Hanekom, Jacques Engelbrecht. Doelskoppe: Theuns Kotze 4.

♦  In Port Elizabeth het die Pumas hulle enigste oorwinning van ʼn teleurstellende Curriebekerreeks behaal toe hulle die OP Kings 38-30 geklop het. Die Kings, met net ʼn enkele bonuspunt, het drie drieë gedruk en die Pumas ses. Die Kings was rustyd 20-19 voor en met nege speeltyd oor was die Pumas nog 24-31 agter.

Puntemakers –

Pumas (19) 38: Drieë: Brian Shabangu, Frank Herne 3, Kevin Luiters, JP Lewis. Doelskoppe: Heinrich Steyl 2, Davon Williams 2
OP Kings (20) 30: Drieë: Johann Tromp, Bakkies Brown, Ricky Schroeder. Doelskoppe: Pieter-Steyn de Wet 3. Strafdoele: De Wet 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.