WP Rugby slaan nóg vure dood

Westelike Provinsie Rugby (WPR), kan eenvoudig nie voorbly om vure betreffende sy oënskynlik benarde geldsake dood te slaan nie.

Luidens ʼn verklaring wat Maandag in Kaapstad uitgereik is, het die uitvoerende groephoof en die rugbydirekteur Maandag met die spelers vergader om beriggewing in die Sondagpers, dat die WPR van heelwat van sy spelers ontslae gaan raak, te ontken.

Dit volg skaars drie dae ná ʼn verklaring waarin die bond hardnekkige gerugte dat hy Nuweland verkoop het, vir die soveelste keer ontken het.

ʼn Maand gelede is berig dat die sakereus Remgro ʼn ultimatum aan die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) gestel het om binne enkele dae ʼn verband op onroerende eiendom ten gunste van die lener te registreer vir die R44 miljoen wat hy in 2016 aan die WP geleen het, of om die lening onverwyld terug te betaal.

Die WP het hierop ontken dat Remgro die lening opgeroep het.

Sondag se beriggewing meld, onder meer, dat die WPRU verplig is om sy begroting met R20 miljoen te besnoei, en dat hy ʼn lys van 18 spelers aan ander bonde gestuur het, wat hy glo wil uitleen of verkoop.

Paul Zacks, die groephoof, bestempel die beriggewing in die verklaring as “feitelik verkeerd en erg misleidend”.

Hy sê alle spelerskontrakte van 2018 en later sal nagekom word.

“… ons wil te alle tye ten beste na die spelers se belange omsien, wat, vir sommige (veral dié wat van langtermynbeserings herstel) daarop neerkom dat hulle voordeel uit ʼn leentydperk by ʼn ander franchise kan trek om broodnodige wedstrydgeleentheid of blootstelling aan ander internasionale reekse te kry …,” lui die verklaring onder meer.

Die WP was in Desember ook in ʼn geskil oor bonusbetalings met personeel gewikkel.

WP Rugby, die bond se sakeafdeling, is in Desember 2016 gelikwideer, maar te wyte aan ʼn voortslepende regsgeding rakende ʼn eis van sowat R270 miljoen teen WP Rugby, het die stof in hierdie verband nog lank nie gaan lê nie.

Luidens berigte is die likwidateur intussen vervang, en het WP Rugby by geleentheid ʼn hofaansoek gebring om die sub poena van bepaalde dokumente vir die likwidasieondersoek tersyde te stel.

Daar was einde 2016 ook sprake dat Remgro sy aandeel in WP Rugby wou verhoog om die likwidasie te help voorkom, maar die SA Rugbyunie (Saru) se franchise-model en bepalings oor aandeelhouding, het hom glo belangstelling laat verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jannie ·

Maar in die Kaap laat hulle geen geringste geleentheid verby gaan om ander bonde en unies sleg te sê en hulle spelers en administrasie af te kraak nie!!!
What goes around, comes around!!

What a joke! ·

Ja jul krap mos met kwotas voor en kwotas agter….skielik het die goue gans se goue eiers opgedroog want jul het die goue gans ontneem van sy sport en genot..
Maar kom tog nou jul het mos soveel swart sokker ondersteuners,waar is hul nou om jul te ondersteun saru tjie???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.