WP se eerste sege, maar heelwat haper nog

wp logoDit was hoofsaaklik ʼn geploeter met ʼn paar stukkies konstruktiewe spel in die stryd ná rustyd in die Curriebekerwedstryd tussen die OP Kings en die Westelike Provinsie in Port Elizabeth wat die besoekers 36-12 gewen het.

Die eerste helfte was dit die een fout op die ander. Nie een van die twee spanne kon aan die gang kom nie en hanteerfoute het menige beweging skipbreuk laat ly.

Oomblikke voor die rustydtoeter was die telling ʼn skrale 12-6 in die guns van die WP, op soek na hulle eerste oorwinning na twee neerlae. Hulle het toe gaan druk en op 17-6 gaan water drink.

Die WP het besit en gebied oorheers, en verdien om voor te loop. Dat daar egter kommer by die afrigtingskorps was, is seker – en na die wedstryd was dit stellig nog méér so.

Maar dan moet jy nie vergeet dat die Kings verlede week op Loftus die Blou Bulle ook laat uithaal het nie. Hulle is ver van die volmaakte produk af, maar kan tog, as hulle eers hul samespel onder die knie kry, nog ʼn grote of twee te laat uithaal. Vooraan die prioriteite moet ʼn effektiewe verdedigingstruktuur wees.

Op die ou end het die WP eenvoudig net meer gehalte gehad. Tog het hulle in die twee helfte net ʼn enkele drie in die eerste 72 minute gedruk voordat die Skotse senter Huw Jones toe twee keer binne drie minute deur is om die telling van 24-6 na 36-6 te voer.

Die WP sal bly wees oor die ses drieë en die gepaargaande vier bonuspunte, maar dit was eenvoudig nie van Curriebekergehalte nie.

Puntemakers –

OP Kings (6) 6: Strafdoele: Kobus Marais.
WP (17) 36: Drieë: Leolin Zas, Sikhumbuszo Notshe, Huw Jones 3, Jano Vermaak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.