WP se tweede helfte knak Griekwas

Huw Jones was weer uitstekend in die middelveld (Foto skysports.com)

Huw Jones was weer uitstekend in die middelveld (Foto skysports.com)

Die Westelike Provinsie het na rustyd Vrydagaand sy seisoen gered toe hy Griekwas in Kimberley 52-31 in die belangrike Curriebekerwedstryd geklop het.

Die bonuspunt-oorwinning beteken dat die WP nog op koers is om die uitspeelrondes te haal terwyl Griekwas se kanse daarmee heen is. Die sogenaamde Streeptruie, wat Vrydagaand in wit truie gespeel het, moet aanstaande naweek op Nuweland bloot teen die Boland Kavaliers wen om die halfeind te haal.

Rustyd was die WP nog 17-21 agter, maar die laaste halfuur van die wedstryd het vier van hulle ses drieë gebring – twee binne drie minute toe Huw Jones en Werner Kok gaan druk het.

Hierdie twee drieë, met die Skotse senter Jones weer uitstekend, het Griekwas se rug gebreek. Die laaste twee drieë, deur Nizaam Carr en Leolin Zas in die laaste tien minute was net die kersie op die koek toe die slag klaar gelewer was.

In die tweede helfte het Griekwas net ʼn strafdoel gekry wat hulle kortstondig na 49 minute 24-20 laat voorloop het, en toe in die doodsnikke ook ʼn verdoelde drie deur Jonathan Adendorff. Hierdie drie het darem vir griekwas `n bonuspunt beteken.

Ironies genoeg was dit die twee Springbokke wat die WP-afrigter John Dobson ingevoer het, Bongi Mbonambi en Juan de Jongh, wat die eerste helfte se twee drieë gedruk het.

Die tuisspan het die eerste halfuur of so heeltemal oorheers en sy rustydvoorsprong onteenseglik verdien. Maar ʼn wedstryd is 80 minute lank.

♦ Die oorwinning was die laaste van die drie groot tellings wat Vrydag aangeteken is deur drie Super-franchise’e se provinsiale spanne teen die drie provinsiale spanne wat vir die Curriebekerreeks moes kwalifiseer.

Die Boland het in Wellington tot halfpad deur die tweede helfte die Blou Bulle, ver van hulle beste, laat uithaal om uiteindelik 48-26 te wen; en in Mbombela het die Vrystaat Cheetahs hulle eerste plek op die punteleer ondubbelsinnig verseël deur die Pumas 52-10 te klop.

Puntemakers 

Griekwas (21) 31: Drieë: JW Jonker, Poerie van Rooyen, André Swarts, Jonathan Adendorf. Doelskoppe: Clinton Swart 2, Swarts 2. Strafdoel: Swart.

WP (17) 52: Drieë: Juan de Jongh, Bongi Mbonambi, Huw Jones, Werner Kok, Nizaam Carr, Leolin Zas. Doelskoppe: Robert du Preez 5. Strafdoele: Du Preez 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.