WP se Willemse-waagstuk

Damian Willemse – sy keuse dalk ‘n waagstuk (Foto: @twitter Junior Springboks)

Die Sharks se losskakel, Curwin Bosch, lek seker nou al sy lippe af vir Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie op Kingspark in Durban.

Dit is nie net sy tweestryd met die WP-losskakel, Robert du Preez, wat in die kollig is nie, maar ook die berekende waagstuk van die WP se afrigter, John Dobson, om Damian Willemse as heelagter te kies.

Dobson het drie veranderinge aan die agterlyn en twee aan die pak gemaak wat die Goue Leeus verlede Saterdag op Nuweland getroef het.

Hy het dieselfde agterlyn gekies wat weke gelede die Sharks op Kingspark met 31-20 getroef het. Willemse begin weer op heelagter, die veelsydige Springbokagterspeler Dillyn Leyds skuif vleuel toe in die plek van die sewes-Springbok, Ruhan Nel, wat die beseerde senter EW Viljoen vervang.

Voorlangs is twee nuwe flanke gekies: die vurige jong Cobus Wiese en Sikhumbuzo Notshe, wat Jaco Coetzee vervang wat steeds met harsingskudding sukkel.

Wees maar verseker dat Bosch die ewe jong Willemse deeglik sal toets. Wanneer Michael Claassens in die tweede helfte as plaasvervanger-skrumskakel opgestuur word, sal die lugaanvalle voortgesit word.

Willemse het twee weke gelede die toets maklik geslaag, maar dit was nie ʼn eindstryd nie, met niks vir die tuisspan op die spel nie. Dié keer sal Kingspark ʼn drukkoker wees en die Sharks sal nie die vlugvoetige jongeling weer laat wegkom nie – daarvan sal Bosch en die Sharks se afrigtingspan seker maak.

Westelike Provinsie –

15 Damian Willemse, 14 Seabelo Senatla, 13 Ruhan Nel, 12 Huw Jones, 11 Dillyn Leyds, 10 Robert du Preez, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Nizaam Carr, 7 Cobus Wiese, 6 Sikhumbuzo Notshe, 5 JD Schickerling, 4 Chris van Zyl (kaptein), 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Alistair Vermaak, 18 Frans van Wyk, 19 Jan de Klerk, 20 Kobus van Dyk, 21 Jano Vermaak, 22 Werner Kok, 23 Dan Kriel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.