WP terug; Skotse trui wink weer vir SA slot

WP Nel (Foto: Scottish Rugby)

Die Suid-Afrikaans-gebore Skotse stut WP Nel het herstel van die besering wat hom ʼn Britse en Ierse Leeutrui gekos het; en ʼn gewese Sharks-slot kry nóg ʼn kans om dalk toetsrugby vir Skotland te speel.

Nel en Anton Bresler, eintlik ʼn Namibiër, wat Super- en Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel het, is albei ingesluit in die Skotse voorseisoense oefengroep vir hul kamp by St Andrews.

Die Skotte speel in November teen Samoa, Nieu-Seeland en Australië.

Nel het lank met ʼn nekbesering gesukkel, maar lyk nou weer reg. Bresler was tevore al ʼn slag in die Skotse oefengroep, maar het nog nie sy deurbraak gemaak nie.

Die Stormers-senter Huw Jones is ook in die groep, maar die gewese SA o.20-stut Allan Dell, wat Skotland sedert verlede jaar tien keer verteenwoordig het, is beseer.

Dell het ʼn slag of wat van die bank af vir die Leeus in Nieu-Seeland gespeel, nadat hy as plaasvervanger ontbied is terwyl hy saam met die Skotte in Australië getoer het.

Die gewese Lions-kaptein Josh Strauss, wat Skotland eweneens tien keer verteenwoordig het, het die Glasgow Warriors vanjaar vir die Sale Sharks verruil en is ook nie in die groep nie. ʼn Nierbesering het vroeër vanjaar sy Sesnasies-rugby kortgeknip.

Sowel Bresler as Dell het twee maande gelede hul kontrakte met die Skotse superklub Edinburgh Rugby verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.