WP trap Leeus plat

Die WP teen die Leeus in die 2022 Curriecup. (Foto: Hansie Linde)

Só sal die Westelike Provinsie, en dalk ook die Leeus, se rugbyspanne hul ondersteuners teruglok stadions toe, veral as die spanne hul verdediging en dissipline kan opknap.

Die WP het Saterdagmiddag in die Kaapstad-stadion sy kragmeting in die Curriebekerreeks teen die Leeus met ʼn sege van 48 – 36 ingelui.

Ja, dit was dalk nie die ware Jakob van weleer as ʼn mens na die spanlyste kyk nie, maar anders as die Blou Bulle (hulle oortree geen reël nie en is dalk net slimmer as die res), het die WP en die Leeus nie Springbokke of veel van hul hardebaard-spelers in hul Curriebeker-groepe nie.

Dis lankal nie meer krag teen krag nie, dis nou ʼn reeks om talent te ontwikkel, om nuwelinge na vore te laat tree, om die bond se spelerdiepte uit te brei.

Die WP teen die Leeus in die 2022 Curriecup. (Foto: Hansie Linde)

 

Daar is altesaam 12 drieë in Kaapstad gedruk, sewe deur die WP en vyf deur die Leeus.

Van hulle was uit die boonste rakke en het die gedagtes na Carel du Plessis-hulle laat terugdwaal, al was van die drieë weens swakkerige verdediging en rolmaal-drieë.

Die grootste uitblinker was die WP-vleuel Angelo Davids, wat tot nadeel van die Blitsbokke nou 15-manrugby speel.

Hy het ʼn driekuns aan drieë behaal en met sy vaart, systappe en visie beïndruk. Met die regte leiding kan hy soos Rosko Specman ontwikkel.

Aan die Leeus se kant was Lunga Ncube en Emmanuel Tshituka vol vuur.

Dis nog baie vroeg om voorspellings te waag, maar daar kan dalk nuwe lewe in die Curriebekerreeks geblaas word.

Punte: Westelike Provinsie: 46 (29): Drieë: Adré Smith, Angelo Davids (3), Chad Solomon, Hacjivah Dayimani, Deon Fourie. Doelskoppe: Tim Swiel (5). Strafdoel: Swiel.

Leeus 36 (15): Drieë: Dameon Venter, Mark Snyman, Zeilinga Strydom, Boldwin Hansen, Darnell Osuagwu. Doelskoppe: Vaughn Isaacs (4). Strafdoel: Isaacs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Dit is mos al om bekend dat die WP vroeg piek en dan uit die bus val hoe verder die kompetisie vorder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.