WP trek leenspelers nader na nóg verliese

Werner Kok en Seabelo Senatla deur WP gelok (Foto: scmp.com)

Werner Kok en Seabelo Senatla deur WP gelok (Foto: scmp.com)

Die Westelike Provinsie – en lees ook maar die Stormers – is besig om naarstiglik rond te skarrel om vir die jongste verlies van drie van hulle spelers, insluitende ʼn Springbok, te kompenseer.

Jaco Taute, Springboksenter nadat hy sy merk as heelagter gemaak het en wat lank deur beserings van die veld was, die vleuel Kobus van Wyk en nou skynbaar ook die flank Rynardt Elstadt, is vir die WP verlore. Hulle gaan oorsee speel.

Laasgenoemde sal egter nog die Curriebekerseisoen uitsien.

Om gedeeltelik daarvoor en vir hulle baie beserings te vergoed, het die WPRU na onderhandelings met SA Rugby vir Seabelo Senatla, die blitsige vleuel van die SA sewesspan, en Werner  Kok, nóg ʼn Blitsbok en Wêreldrugby se sewesspeler van die jaar, bygekry.

Kok is net tot die einde van die jaar as ‘leenspeler’ vir die WP beskikbaar. Hy speel reeds die naweek vir die Streeptruie teen die OP Kings in Port Elizabeth.

Senatla het ʼn driejaar-kontrak met SA Rugby en die WPRU waarvolgens hy vir die WP en Stormers beskikbaar sal wees wanneer daar nie internasionale sewestoernooie is nie.

Senatla is egter beseer en dis onwaarskynlik dat hy vanjaar ʼn bydrae sal lewer.

Die WP het ʼn leenspeler van die Vrystaat Cheetahs, die haker Neil Rautenbach, bekom. Die heelagter Scott van Breda, wat al ʼn hele paar wedstryde vir die WP gespeel het en in meer as 60 wedstryde vir die OP Kings uitgedraf het, is saam met die haker Martin Ferreira en die flank Stefan Willemse op korttermynkontrakte by die WP.

Terwyl dit nie ideaal is nie, moet daar in ag geneem word dat die WP en Stormers die afgelope jaar of so ondermeer spelers soos Steven Kitshoff, Deon Fourie, Vincent Koch, Ruan Botha, Manuel Carizza, Michael Rhodes, Schalk Burger, Duane Vermeulen (ʼn volle pak voorspelers), en die skakels Demetri Catrakilis, Nic Groom en Louis Schreuder, verloor net – plus natuurlik Elstadt, Taute en Van Wyk.

Koch speel tans nog toetsrugby, maar sal nie vir die Stormers beskikbaar wees nie.

♦ Intussen het die WP-afrigter Robbie Fleck besluit om die jong Brandon Thomson vir Saterdag se Curriebekerwedstryd teen die OP Kings in die Baai as losskakel te behou. Hy het in sy eerste beginwedstryd verlede week gesukkel, maar is weer voor Robert du Preez gekies wat dusver ook nie na die antwoord gelyk het nie.

Spanne: OP Kings vs Westelike Provinsie

OP Kings
15 Johann Tromp, 14 Siviwe Soyizwapi, 13 JC Greyling, 12 Burton Klaasen, 11 Sampie Mastriet, 10 Kobus Marais, 9 Ricky Schroeder (kaptein), 8 Christiaan De Bruin, 7 Etienne Oosthuizen, 6 Vince Jobo, 5 Sebastian Ferreira, 4 Tazz Fuzani, 3 Vukile Sofisa, 2 Mike Willemse, 1 Justin Forwood. Bank: 16 Martin Bezuidenhout, 17 Barend Potgieter, 18 Dylon Pieterse, 19 Luke vd Smit, 20 Brandon Brown, 21 Lungelo Goza, 22 Ganfried May.

Westelike Provinsie
15 Cheslin Kolbe, 14 Werner Kok, 13 Huw Jones, 12 Dan du Plessis, 11 Leolin Zas, 10 Brandon Thomson, 9 Jano Vermaak, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Jurie van Vuuren, 6 Kobus van Dyk, 5 Chris van Zyl (kaptein), 4 JD Schickerling, 3 Wilco Louw, 2 Scarra Ntubeni, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Neil Rautenbach, 17 Alistair Vermaak, 18 Oli Kebble, 19 Jan de Klerk, 20 Stefan Willemse, 21 Godlen Masimla, 22 Robert du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.