WP troef Haaie in naelbytstryd

Foto: Hansie Linde.

’n Komkommerkoel Tim Swiel het gister in die doodsnikke van die WP se Curriebekerwedstryd teen die Haaie die wenstrafskop oor die dwarslat gejaag om toe te sien dat die Streeptruie die kragmeting met 32 – 31 op hul nuwe tuisveld gewen het.

Dit was die Kapenaars se eerste Curriebeker-wedstryd in die Kaapstad-stadion en hulle is nou eerste op die punteleer met 11 punte ná drie wedstryde.

Die sege is grotendeels te danke aan Swiel se skopvoet. Die 28-jarige agterspeler was in die kol met agt stelskoppe en hy het uiteindelik 22 van sy span se punte aangeteken om welverdiend met die speler van die wedstryd-toekenning weg te stap.

Tog was dit die Haaie wat meer avontuurlustige rugby gespeel het en hulle het vier drieë teenoor die twee van die tuisspan gedruk.

Jaden Hendrikse was vir twee van die besoekers se drieë verantwoordelik, terwyl Thembelani Bholi en Fez Mbatha ook deur die WP se verdediging gebars het.

Foto: Hansie Linde.

Vir die Streeptruie het die opportunistiese Paul de Wet ’n onderskepdrie gedruk, terwyl die groot Evan Roos met sy kraglopie beïndruk het.

Volgens Swiel het die winderige weerstoestande dinge effens moeilik op die veld gemaak, maar die Kapenaars is baie tevrede met die uiteinde van die wedstryd.

  • Puntemakers:

WP: Drieë: Paul de Wet en Evan Roos. Doelskoppe: Tim Swiel (2). Strafskoppe: Swiel (6).

Haaie: Drieë: Jaden Hendrikse (2), Thembelani Bholi en Fez Mbatha. Doelskoppe: Curwin Bosch (4). Strafskop: Bosch.

  • Punteleer:
  1. WP 11 punte
  2. Blou Bulle 10 punte
  3. Haaie 7 punte
  4. Pumas 6 punte
  5. Griekwas 5 punte
  6. Leeus 5 punte
  7. Cheetahs geen punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.