WP verloor sy tweede uit twee wedstryde

Vrystaat logo ronelDie Westelike Provinsie begin seker nou die druk voel na hulle tweede opeenvolgende Curriebeker-neerlaag. Hulle het Vrydagaand 25-32 teen die Vrystaat Cheetahs op Nuweland verloor.

Die WP se twee neerlae, een weg en een tuis, was teen twee van die bekergunstelinge, die Blou Bulle en die Vrystaat. Hulle sal nou die ander twee swaargewigte, die Sharks (tuis) en die Goue leeus (weg), móét klop en hoop dié klomp sorteer sake onder mekaar tot die Streeptruie se voordeel uit.

Dit was ʼn lekker wedstryd, met sy kwota foute maar heelwat wat die beste uit albei spanne gehaal het. Die WP het drie drieë teen twee gedruk en in die laaste vyf minute of so met alles gehardloop om die sewepunt-agterstand te probeer inhaal, maar foute en omkeerbesit het hulle duur gekos.

In die skrums het die WP aanvanklik stewig gestaan maar die Vrystaat Cheetahs het in die tweede helfte, toe dit saakgemaak het, die oorhand begin kry. Scarra Ntubeni het ook gesukkel om sy springers in die lynstaan te vind.

Die WP het redelik op die skopskoen van Brendan Thomson staatgemaak om gebied te kry en hy het dit goed gedoen. Daar is egter weinig met die agterlyn geslaan en wanneer die spanne gehardloop het, was die Vrystaters daardie stukkie gevaarliker.

Die twee Vrystaatsenters William Small-Smith en Nicolaas Lee was veral prominent, en Clayton Blommetjies feitlik altyd gevaarlik van heelagter af.

Maar die WP-senter Huw Jones het self een drie gedruk toe hy mooi reguit gemaak het en ʼn aangee van Jano Vermaak in ʼn drie omskep het. Hy het ook die drie van Kobus van Wyk gemaak met ʼn slim aangee na die steelkant wat die tuisspan in die prentjie gehou het.

Vir die wenspan het Fred Zeilinga 22 punte met agt uit agt doelskoppe aangeteken.

Puntemakers –

WP (18) 25: Drieë: Huw Jones, Kobus van Wyk, Leolin Zas. Doelskoppe: Brandon Thomson, Robert du Preez.  Strafdoele: Thomson 2.
Vrystaat Cheetahs (13) 32: Drieë: Nicholaas Lee, Tian Meyer. Doelskoppe: Fred Zeilinga 2. Strafdoele: Zeilinga 6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.