WP verloor wéér in doodsnikke

Leeuplesier! Stean Pienaar se drie het die momentum in die Leeus se guns geswaai. Foto: Twitter.

Spanne wat vanjaar teen die Westelike Provinsie speel kan gerus ’n aantekening in hul dagboeke maak: Indien hulle vir die volle 80 minute hul bes teen die Kapenaars lewer, is die kanse goed dat hulle uiteindelik met die louere gaan wegstap.

Want waar Chris Smith verlede week die wedstryd vir die Bulle op Nuweland beklink het, het Tiaan Swanepoel se skopskoen gisteraand die Kapenaars se harte op Ellispark gebreek.

Die 24-jarige heelagter het eerstens met ’n reuse-strafskop in die eerste helfte – na raming ’n rapsie verder as 60 m – geslaag, waarna hy heelwat later ook die wenstrafskop oor die dwarslat gejaag het.

Die uiteinde van sy heldedade: Die Leeus wen die wedstryd met 22 – 19.

Tog was dit die WP wat te danke aan Tim Swiel se skopskoen en Seabelo Senatla se driedruk-vaardighede, nog laat in die wedstryd met tien punte voorgeloop het.

Maar die Leeus se Stean Pienaar het eerstens die bal aan die rol vir die Johannesburgers gesit toe hy ’n puik individuele poging agter die Kapenaars se doellyn afgerond het om die telling 19-elk te maak.

En waar daar gereeld ná ’n rugbywedstryd gesê word dat “as die kragmeting maar net vyf minute langer was sou dit of dat gebeur het”, het Swanepoel die kroon op die Leeus se sterk terugvegpoging gespan toe hy die wenstrafskop in die 81ste minuut tussendeur die pale gestuur het.

  • Puntemakers:

Leeus: Drie: Stean Pienaar. Doelskop: Tiaan Swanepoel. Strafskoppe: Tiaan Swanepoel (5).

Westelike Provinsie: Drie: Seabelo Senatla. Doelskop: Tim Swiel. Strafskoppe: Swiel (4).

  • Curriebeker-punteleer:
  1. Blou Bulle 32 punte
  2. Haaie 24 punte
  3. WP 21 punte
  4. Leeus 20 punte
  5. Cheetahs 17 punte
  6. Pumas 11 punte
  7. Griekwas 5 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

WP sal moet weer probeer….

Die Wolf

Nog steeds van mening dat die kompetisie sonder punte wat oorgedra is moes begin. Die speelveld sou ten minste meer gelyk gewees het. Maar nou ja, n mens kan seker maar dink wat jy wil?

Frans

Die Curriebeker reeks sal in sy geskiedenis bekend staan vir sy skeefgetrekte puntetabel.Kyk na die tabel by Supersport ,daar word wedstryde gespeel in ‘Superrugby Unlocked ‘ aangedui as wedstryde in die Curriebeker gespeel,bv 8 teenoor twee werklik gespeel. OP webblaaie waar dit korrek aangetoon word nl twee gespeel,sal ‘n mens wonder hoe ‘n span soos die Bulle na 2 wedstryde 32 punte kan behaal. Wonder wie se idee dit was om punte van een kompetisie na ‘n ander oor te dra.Dit laat my dink aan ‘n minister in die apartheidjare wat voorgestel het dat om motorongelukke te verminder die volgende… Lees meer »