Wraakstryd wink teen Benetton

Elrigh Louw op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Op 19 Junie 2021 het die Bulls sleg teen Benetton in die eindstryd van die Reënboogbeker in Italië verloor.

Hoewel ’n mens reeds vóór daardie wedstryd geweet het dat die Pretorianers effens in die vreemde sou sukkel – hulle was immers sonder die dienste van Morné Steyn en Duane Vermeulen – het die eindtelling (35 – 8) gesorg dat die meeste Bulls-ondersteuners aan hul boegoebrandewyn stik.

’n Plaaslike Italiaanse span is mos nie soveel beter as die magtige Pretorianers nie? En heimlik was die span se ondersteuners vol selfvertroue dat nóg ’n trofee sy pad na die Jakarandastad sou vind.

Helaas was dit hulle egter nie beskore nie.

Nou kry die Bulls op 23 April kans om hul nederlaag te wreek wanneer hulle gasheer vir Benetton op Loftus Versfeld speel.

Ja, daar moet nog baie water in die see loop (lees moeilike wedstryde teen Ulster en die Stormers) terwyl ’n sportspan seker ook op een uitdaging op ’n slag moet konsentreer, maar die meeste Pretorianers kan seker nie vir hierdie herontmoeting wag nie.

Ná ’n paar onoorwonne wedstryde is die Bulls se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-veldtog weer op koers, terwyl Benetton gereeld aan die verloorkant is.

Met spelers soos Elrigh Louw, Marcell Coetzee, Harold Vorster en Kurt-Lee Arendse wat deesdae op alle suiers vuur kan die Italianers spoedig besef dat Loftus Versfeld nie Treviso is nie.

Harold Vorster is een van die Bulls se sterre. Foto: GB Jordaan.

Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, het juis vroeër Vorster se lof besing.

“Harold word net beter en beter. Sy balverspreiding is baie goed, terwyl hy ook uitstekende met sy medespelers kommunikeer,” het die Wêreldbeker-wenafrigter gesê.

Die komende Ulster- en Stormers-kragmetings kan veel moeiliker uitdagings wees.

Die Ierse klub (met die einste Vermeulen in sy geledere) is tans tweede op die punteleer, terwyl die Kapenaars bitter gevaarlik op die aanval is.

Maar sal dit nie lekker wees as die Bulls vir Benetton góéd op Loftus Versfeld opdons nie!

  • Bulls se komende VRK-bepalings:

26 Maart teen Dragons op Loftus Versfeld

2 April teen Ulster op Loftus Versfeld

9 April teen Stormers in Kaapstad

23 April teen Benetton op Loftus Versfeld

29 April teen Glasgow Warriors op Loftus Versfeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.