Wys my jou voortand!

Foto: youtube

Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners kan gerus ʼn les leer by die Munster-ondersteuners, en sommer ook hul koppe weer in skaamte laat sak.

In Saterdag se Pro12-halfeindstryd op Thomondpark  in Limerick tussen Munster en die Walliese klub Ospreys, is die besoekende  losskakel, Dan Biggar, deur ʼn ondersteuner gehekel terwyl hy in byna doodse stilte met ʼn strafskop aangelê het pale toe.

Biggar het met die skop misluk en toe het die Munster-ondersteuners oorgeneem.

“Uit, uit, uit,” het hulle geskree terwyl die ondersteuner, hy het glo ʼn hele paar enetjies met eisj agter die blad gehad, deur ʼn beampte aangesê is om die stadion te verlaat. Hy het ook onvleiende opmerkings teenoor die beampte gemaak en is toe onder groot toejuiging deur die Ierse polisie uit die stadion verwyder.

En op Ellispark, Nuweland en Loftus?

Wat het van ons goeie maniere ná skool  geword, want as Affies, Waterkloof, Linden of Helpmekaar speel, is dit tjoepstil.

Ja, ja, ja, dit gebeur ook in Nieu-Seeland en Australië,  maar hoekom moet ons die onopgevoede stroom volg?

Baie min skoppers word ontsenu, want hulle het die vermoë om af te skakel. Trouens, deur hulle uit te jou, word hulle nog verder aangespoor.

♦  Dis nie al voorval wat die propvol naweek “oorheers” het nie.

Die Australiese seweskaptein, James Stannard, moet vroeg Maandagoggend tandarts toe nadat hy een van sy tande in die seweswedstryd op Twickenham teen Amerika verloor het.

Stannard het Martin Iosefo geduik en toe waai een van sy tande.

Stannard het die skeidsregter, Craig Joubert, gevra om dit vir hom tot ná die wedstryd te bewaar, maar Joubert het een van die Australiese beamptes gevra om dit eerder te doen.

Dink net wat sou gebeur het as Joubert ʼn geelkaart wou uitpluk, maar in plaas daarvan ʼn voortand aan ʼn oortreder gewys het!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Benito Odendal ·

Darm al ‘n paar spannetjies afgerig net virrie lekkerte en niks ” sirias ” nie… en moet se die meeste skoppers verkies die “geboeery”….die stilte is verskriklik intimiderend…..een van my loskakels het die gewoonte gehad om selfs na die opposisie skare te draai en vir hul tong uit te steek tot hul begin booo het…..as dit mooi aan die gang was , het hy sy aanloop begin……As daai skop oor was het hy ‘n netjiese buiging gemaak na hul kant……

Nico K ·

Ja wat om stil te bly het geen doel nie. Spelers wat hul deur toeskouers laat intimideer moet nie in Argentinië gaan rugby speel nie. (Of koshuis rugby speel nie.) En soos Voetap jare terug geskryf het, toeskouers gaan nie rugby kyk om die wedstryd te geniet nie, maar om hul span te help wen. (Wonder nog altyd wie was Voetap van der Westhuizen regtig.) En soos Benito hierbo skryf, ek dink nie enige skopper laat hom regtig daardeur imtimideer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.