Yanks kies 4 uit SA vir Amerikas-Suidsee-reeks

Ruben de Haas (Foto: Verskaf)

Amerika het vier spelers met Suid-Afrikaanse wortels gekies vir die komende tweedevlaktoernooi in Montevideo, Uruguay, tussen lande van die Amerikas en die Stille Suidsee.

Die Yanks en die Argentyne skryf “vyftientalle” in en Samoa, Kanada, Uruguay en Tonga stuur hul naasbestes.

Benewens twee Amerikaanse toetsspelers, die veelsydige agterspeler JP Eloff (nege toetse) en die losvoorspeler Hanco Germishuys (twee toetse), is Ruben de Haas en Alex Vorster by die vyftiental vir die reeks ingesluit.

Die skrumskakel De Haas (Little Rock Stormers, Arkansas), wat tans aan die Cheetahs se akademie verbonde is en vir die Vrystaat se o.20-span speel, is die seun van die gewese Curriebekerspeler Pieter de Haas, en kleinseun van Gerard de Haas, wat eweneens in Suid-Afrika se topreeks gespeel het.

Hy het in Mei vanjaar sy skoolloopbaan voltooi, en het Amerika reeds op o.17-, o.18- (as kaptein), o.19- (as onderkaptein) en o.20-vlak verteenwoordig.

Vorster, ʼn haker, is in Durban gebore en speel vir die Brigham Young-universiteit in die deelstaat Utah.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.