Young Standards vier 125ste verjaardag

young standardsDie Paarlse rugbyklub Young Standards vier vanjaar sy 125ste verjaardag.

Lee Scholtz, die klub se wedstrydsekretaris, laat weet een van die hoogtepunte van die vierings is die jaarlikse derby teen Retreat (self net sewe jaar jonger) op 8 Oktober.

Dit begin 11:00 in die Faurestadion.

Die feesvierings het met `n kerkdiens in die Bethel- Kongregasionalistiese Kerk begin, en sluit `n skoonmaakprojek in Amstelhof, `n gedenkwedstryd op Nuweland, `n tienmantoernooi, `n feeswedstryd teen Rangers (24 September) en `n 125ste verjaardagbal in.

Kevin Benjamin, die klubsekretaris, sê die klub is in Augustus 1891 gestig en oorlewering wil dit hê dat die stigtingsdebat op `n Sondag na middagete onder `n koraalboom op die plein langs die bekende Strooidakkerk plaasgevind het.

Die aanvanklike lede het in die omgewing van Berg- en Tempelierstraat gewoon.

Kowie Damonse, ene Aries, ene Waries, Freek Pietersen, Johnny Hoeft, Esau Damonse, John Bell en Marthinus Mackier kry die krediet vir die stigting en talle van hul nasate speel steeds vir die klub wat die leuse “We lead others follow” voer.

Die naam en die leuse is die breinkinders van die destydse hoof van die Bethel- Kongregasionalistiese Kerkskool, `n mnr Hendricks.

Young Standards word as `n familieklub beskou, met talle pa’s, seuns, broers en ooms wat oor die jare heen vir die klub uitgedraf het. Die klub se mense het op en van die veld hul merk gemaak.

Ike Sampson, Nick Blanche en Frans (Dikke) Pietersen van Standards is in 1939 vir `n Suid-Afrikaanse span gekies wat die Britse Eilande sou besoek, maar die Tweede Wêreldoorlog het dit in die wiele gery. Nog `n klublid, MF Pietersen, sou as die spanbestuurder optree.

Young Standards was die Paarl-rugbyunie se kampioen in 1993 voor samesmelting die volgende jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.