Zimbabwe: Magstryd vroeg op die spits gedryf

Die magstryd om Zimbabwe aanstaande jaar in die SA Rugbyunie (Saru) se reeks om die Goue Beker te verteenwoordig, kan vroeg al op die spits gedryf word as die onoorwonne voorlopers mekaar Saterdag voor die bors vat.

Matabeleland Warriors van Bulawayo is boaan die punteleer van die Tussenstedelike Liga (ICL) nadat hy in al drie sy wedstryde tot dusver ʼn bonuspunt verdien het.

Verlede jaar se Goue Bekerspan, Old Georgians van Harare, is tweede nadat hy ʼn slag ʼn bonuspunt misgeloop het.

Die twee spanne durf mekaar op die Polisieveld in die Zimbawese hoofstad aan in ʼn wedstryd wat op die ou end deurslaggewend in die reeks kan wees.

Harare Sports Club (HSC), wat sover derde is, speel op dieselfde veld teen Police Defenders en is die gunsteling om te wen.
In die jongste wedstryde in die reeks het Old Georgians met 26-22 teen HSC gewen, en Old Hararians het Old Johannians met 36-24 geklop.

Saterdag se ander wedstryde in die ICL is op Mutare tussen Mutare (vierde) en Bulldogs (agste); en op Hartsfield, Bulawayo, tussen Higlanders (tiende) en Gweru (negende), en tussen Old Miltonians (vyfde) en Old Hararians (sewende).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.