Zululand Rhinos keil Laeveldse klubs op

empangeniDie Empangeni-rugbyklub se Zululand Rhinos het Vrydag en Saterdag met groot sukses aan die Malelane-rugbyklub se toernooi deelgeneem.

Simon Harvey, die klub se voorsitter, sê die Rhinos het Komatipoort Vrydag 23-3 geklop nadat die wenspan rustyd 9-3 voorgeloop het.

“Dit was die eerste wedstryd van die seisoen en die spelers is nog nie heeltemal op stryk nie. Dit het met horte en stote gegaan en die Rhinos het talle kanse om punte aan te teken verbrou.

“Die agterspelers het goed vertoon, maar die agttal het `n bietjie langer geneem om as eenheid te funksioneer. Toe die voorspelers egter eers hul ritme gevind het, het hulle die oorhand in die vaste fasette gekry.”

Harvey sê die Rhinos het Lydenburg Saterdag geheel en al oorskadu en 55-5 gewen nadat die Zoeloelanders rustyd reeds 29-0 voor was.

“Talle jong spelers het die kans gekry om vir die Rhinos te speel en het die geleentheid met albei hande aangegryp. Die Rhinos het sewe drieë gedruk.

Die losskakel Mac van der Linde het die spel puik gedikteer,” het Harvey aan Pale Toe! gesê.

Die afrigters, Riaan Pienaar en Danny Oosthuizen is in hul skik met die sukses van die toer en die vertoning van die spelers in albei wedstryde.

Die kaptein, Jors Dannhauser, het uitgemunt en 32 punte in die twee wedstryde opgestapel. Hy is `n gewese SA Skolespeler, wat Vodacombekerrugby vir die Sharks-vyftiental gespeel het.

Harvey sê die span se verblyf by die Musgove-wildplaas het die ideale geleentheid vir spanbou gebied.

♦ Saterdag speel die Rhinos se eerste twee spanne in vriendskaplike wedstryde in Richardsbaai teen die tuisspan. Die kragmetings begin 15:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.