Ryderbeker: Europese span trap klei met wind wat waai

Bryson DeChambeau van die VSA in aksie. (Foto: Andrew Redington/Getty Images/AFP)

Die sterk wind wat Vrydag algaande op die eerste dag van die Ryderbekertoernooi op Whistling Straits in Wisconsin begin waai het, het die vroeë aanslag van die Europese gholfspan weggewaai.

Amerika loop met 6-2 voor, sy grootste voorsprong nóg na die eerste dag, nadat hy die oggend se beurtspelle met 3-1 gewen het en in die middag se vierballe dit met 3-1 opgevolg het.

Meer as 40 000 rasende Amerikaanse toeskouers het op die baan langs die Michigan-meer toegesak om hul helde in aksie te sien. Die Amerikaners het beslis nie teleurgestel nie, maar die Europeërs het kleigetrap.

In die oggend se beurtspelle het slegs die twee Spanjaarde, Jon Rahm en Sergio Garcia, ʼn oorwinning van 3 & 1 oor die hoogaangeskrewe Amerikaners Jordan Spieth en Justin Thomas in die openingswedstryd behaal.

Die tafel was gedek vir die Europese span, maar niemand anders kon daarby aansit nie.

Die Europeërs het veral op die setperke gesukkel en hoewel daar nog 20 punte oor die volgende twee dae op die spel is, sal hulle baie diep moet delf om Amerika van ʼn sege te weerhou, veral om die tuisspan in ses van die vorige sewe Ryderbeker-toernooie aan die wenkant was.

Boonop het die Amerikaanse spiertier Bryson Dechambeau met die wind wat al hoe sterker begin waai het, die bal al hoe verder in die middag se vierballe geslaan. Op die vyfde putjie het hy die bal 417 tree (380 meter) ver gemoker en dit het die spreekwoordelike wind uit die Europese span se seile gehaal.

Die Noord-Ier, Rory McIlroy. (Foto: Mike Ehrmann / AFP)

Europa kon in die vierballe net twee wedstryde halveer, toe die Engelsman Tyrrel Hatton –­ hy het saam met Rahm gespeel – ­ʼn voëltjieset op die 18de putjie ingerol het om teen Dechambeau en Xander Shauffele te halveer en Tommy Fleetwood en Viktor Hovland ook gehalveer het teen Thomas en Patrick Cantlay.

Een van die groot teleurstellings was die sukkelspel van die Noord-Ier Rory McIlroy.

Dit het die nie-spelende spankaptein, Padraig Harrington, genoop om McIlroy die eerste keer nie te kies vir Saterdag se tweede dag (beurtspelle) nie.

Dit het gevolg nadat McIlroy en Ian Poulter in Vrydag se beurtspelle met 4 & 3 deur Cantlay en Schauffele getroef is en in die middag se vierballe met 4 & 3 teen Harris English en Tony Finay verloor het.

McIlroy het reeds in 26 agtereenvolgende wedstryde gespeel en het ʼn algehele rekord van 11 gespeel, 11 gewen en vier wedstryde wat gehalveer is.

* Daar word 28 wedstryde (beurtspelle, vierballe en enkelspelle) oor drie dae gespeel. As Europa, die huidige kampioen, 14 punte insamel, sal hy die Ryderbeker behou. Amerika moet 14½ punte insamel om die trofee te wen.

Saterdag se beurtspelle (Amerika eerste genoem): Brooks Koepka en Daniel Berger t  Sergio Garcia en Jon Rahm; Dustin Johnson en Collin Morikawa t Paul Casey en Tyrrel Hatton; Justin Thomas en Jordan Spieth t Viktor Hovland en Bernd Wiesberger; Patrick Cantlay en Xander Schauffele t Lee Westwood en Damian Fitzpatrick.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.