SA hokkie se pad na 2018 Wêreldbeker begin Vrydag

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse hokkiespanne begin Vrydagaand in Hartleyvale, Kaapstad, met die opdraande pad om vir aanstaande jaar se Wêreldbekerhokkietoernooi te kwalifiseer.

Die mans en die vroue speel albei in die jaarlikse Somerreeks; met die vrouespan wat Vrydagaand reeds teen Chili speel en die mans wat Sondag teen Nederland, hul sterkste teenstand, te staan kom.

Benewens Suid-Afrika en Chili speel ook China en België in die vrouereeks terwyl die mans teen Nederland en België te staan kom. Die vroue se tweede wedstryd is Saterdag teen China.

Suid-Afrika se manspan is tans 15de op die wêreldranglys en sal hulself behoorlik kan meet teen die derdebeste span ter wêreld, België, en Nederland wat vyfde op die ranglys is.

Vir die vroue behoort Suid-Afrika se sterkste teenstand te kom van die agtste span op die ranglys, China. Suid-Afrika, 13de in die wêreld, sal ook moet uithaal ten België (14de) maar behoort Chili, wat 23ste op die ranglys is, te klop.

Die toernooi sal as voorloper dien vir die Wêreldhokkieliga se halfeindwedstryde wat in Julie begin. Dié wedstryde is ter kwalifisering vir die 2018 Wêreldbekerhokkietoernooi.

Ná afloop van Kaapstad se Somerreeks volg die onderskeie interprovinsiale toernooie en daarna die tweede premierliga-hokkietoernooi wat verlede jaar so suksesvol en gewild was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.