SA hokkie skud die jaarlange roes af

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika se manshokkiespan het Sondag hul eerste wedstryd in die 2017-Somerreeks in Hartleyvale, Kaapstad, teen Nederland met 6-2 verloor.

Nederland is tans derde op die wêreldranglys teenoor Suid- Afrika se 15de posisie en die groot verloortelling is dus nie regtig ʼn verrassing nie – veral nie as in aanmerking geneem word dat Suid-Afrika feitlik ʼn jaar laas internasionale hokkie gespeel het nie.

Die SA span het veel beter gespeel as wat die telling aandui. Nederland was rustyd 2-0 voor en met ses minute se speeltyd oor, was die besoekers met 4-0 voor voordat die tuisspan nog twee doele deurgelaat het, maar self ook twee aangeteken het.

Jonty Robinson en Gareth Heyns het die doele vir Suid-Afrika aangeteken.

♦  Die vrouehokkiespan het in hul eerste wedstryd Vrydag Chili 3-0 geklop. Hierdie uitslag is ook nie ʼn groot verrassing nie, aangesien Suid-Afrika se vroue 13de op die ranglys is en Chili 23ste. Marizen Marais, Candice Manuel en Ilse Davids het Suid-Afrika se doele aangeteken.

♦  Saterdag het Suid-Afrika en China se vroue teen mekaar gespeel. Dit was ʼn uiters mededingende wedstryd, wat China met 3-2 gewen het.

In ag genome dat China agste gekeur is en die SA vroue ʼn jaar laas op die vlak gespeel en samespel uiteraard nie op standaard was nie, is China se die naelskraapse wen-telling ʼn pluimpie vir Suid-Afrika.

Die wedstryd is in baie winderige toestande gespeel en veral die Suid-Afrikaners het gesukkel met die  akkuraatheid van hul aangeë. Quanita Bobbs en Shelly Russell het elk ʼn doel vir Suid-Afrika aangeteken.

♦  Woensdag speel die vroue weer teen China en die mans weer teen Nederland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.