SA laat die medaljes inrol

Suid-Afrika het reeds 66 medaljes by die Afrika-spele in Ghana ingeoes. (Foto: Facebook/African Games)

Suid-Afrika het reeds 66 medaljes by die Afrika-spele in Ghana ingeoes. Net Egipte, Nigerië en Algerië het meer kere op die podium gestaan.

Die span se swemmers het Dinsdag weer eens uitgeblink met Catherine van Rensburg wat onder meer haar derde goue medalje van die Spele losgeslaan het.

Simone Moll het ook die Spele-rekord in die water verbeter toe sy die 50 m-borsslagitem met haar spoggerige tyd van 31.91 s gewen het. Spanmaat Kate Meyer was tweede in ʼn tyd van 33.03 s.

Dan sal Suid-Afrika se vrouekrieketspan later vandag sake om die goue medalje teen Zimbabwe uitspook.

Die wedstryd begin om 15:30 en die aksie sal op YouTube beskikbaar wees.

Daar word hoë verwagtinge van die groot Suid-Afrikaanse span gekoester wat tot 23 Maart in Akkra in aksie is.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het ʼn groep van meer as 200 atlete en 45 beamptes aangewys om die land te verteenwoordig.

Die hoop bestaan dat die span in die 18 sportsoorte waaraan hy gaan deelneem kan voortbou op die 86 medaljes (36 goud, 26 silwer en 24 brons) wat die span in 2019 in Marokko gewen het.

Dit is die agtste keer dat Suid-Afrika sedert hertoelating in 1995 aan die Afrika-Spele deelneem.

Medaljepunteleer:

  1. Egipte: 94 medaljes (53 goud, 21 silwer en 20 brons)
  2. Nigerië: 48 medaljes (22 goud, 10 silwer en 16 brons)
  3. Algerië: 66 medaljes (18 goud, 23 silwer en 25 brons)
  4. Suid-Afrika: 66 medaljes (18 goud, 17 silwer en 31 brons)
  5. Tunisië: 43 medaljes (6 goud, 18 silwer en 19 brons)
  6. Mauritius: 9 medaljes (3 goud, 4 silwer en 2 brons)
  7. Madagaskar: 12 medaljes (3 goud, 2 silwer en 7 brons)
  8. Marokko: 13 medaljes (2 goud, 6 silwer en 5 brons)
  9. Libië: 10 medaljes (1 goud, 9 silwer)
  10. Uganda: 7 medaljes (1 goud, 3 silwer en 3 brons)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stefan ·

Suid-Afrika se medaljes by die Afrika Spele:

Goud Silwer Brons Totaal
1995 64 51 39 154
1999 71 64 49 184
2003 63 59 49 171
2007 61 66 53 180
2011 61 55 40 156
2015 41 41 37 119
2019 36 26 24 86

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.