SA se Amaglug-glug verras teen tuisspan Brasilië

Foto: Ricardo Botelho/SAFA

Foto: Ricardo Botelho/SAFA

Die Suid-Afrikaanse sokkerspan, Amaglug-glug, het een van sy beste vertonings ooit gelewer in Donderdagaand se openingswedstryd op vanjaar se Olimpiese Spele.

Amaglug-glug het met 0-0 gelykop gespeel teen Brasilië. Dit was ʼn skok vir die tuisspan en sy ondersteuners en ʼn yslike hupstoot vir Suid-Afrika in Groep A, want sy twee ander teenstanders in Groep A, Denemarke en Irak, het vroeër ook met 0-0 gelykop gespeel.

Die groot held was die ervare Suid-Afrikaanse doelwagter, Ithumuleng Khune, wat briljant vertoon het.

Die Brasiliane was die volslae gunstelinge, want hulle het tuis in ʼn volgepakte Mané Garrincha-stadion gespeel. Die span het ook flambojante spelers soos Neymar, Felipe Anderson en Gabriel Jesus ingesluit en het ʼn oormaat besit gehad, maar kon nie die spel afrond nie.

Die 29-jarige Khune, een van drie ouer spelers wat volgens die Spele-reëls in die o.23-toernooi mag speel, se keerwerk het die deurslag gegee. Hy is deeglik getoets deur Neymar en Gabriel Jesus, maar het soos ʼn rots bly staan. Die ander uitblinkers was die verdedigers Rivaldo Coetzee, Erick Mathoho en Deolin Mekoa.

Wat dié vertonings nog meer merkwaardig maak, is dat Amaglug-glug in die laaste 31 minute met net tien spelers moes klaarkom nadat Mothobi Mvala afgestuur is.

Suid-Afrika se volgende wedstryd is Sondagaand (afskop 24:00) teen Denemarke.

Die openingseremonie is vanaand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Uiltjie ·

Mooi so manne! Moenie worry oor die ou wat afgestuur is nie, die ref wou die host ” help!”

Kiepie ·

Op sy beste is Khune sekerlik een van die beste doelwagters in die wêreld en gisteraand was hy puik (met ‘n bietjie hulp van die doelpaal, maar wie kla). Min doelwagters sou al daardie doelskote uitgehou het.

Kiepie ·

O ja, en ek wou nog sê, hierdie jong span lyk vol flair en lus vir die ding. As dit die toekons van Bafana Bafana is lyk dinge baie belowend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.