SA se Anderson weer onder die 100 beste spelers

Kevin Anderson vier ’n punt teen Benoit Paire. (AP Photo/Tertius Pickard).

Die beseringspoke het die afgelope ruk by Kevin Anderson baljaar – as hy nie las van ’n elmboogbesering het nie, pla sy knieë hom.

Maar dit lyk asof die 34-jarige geleidelik besig is om weer op alle silinders te vuur nadat hy verlede week tot die halfeindstryd van die ATP-toernooi in Wene deurgedring het.

En hoewel hy deur Rusland se Andrey Rublev uitgeskakel is, tel hy vir die eerste keer sedert die begin van die jaar onder die 100 beste spelers ter wêreld.

In sy opmars na die halfeindstryd het hy ook vir Daniil Medvedev met 6-4 en 7-5 uitgeskakel. Dit was sy eerste oorwinning teen ’n top-10-speler in twee jaar. Hy het in 2018 vir Dominic Thiem en Kei Nishikori by dieselfde toernooi gewen.

Anderson is tans 86ste op die wêreldranglys; net drie plekke agter Lloyd Harris (83).

Intussen sal Serwië se Novak Djokovic in alle waarskynlikheid die jaar as die wêreld se voorste speler afsluit.

Die 33-jarige Serwiër is nou al vir 293 weke die wêreld se nommer 1 en hy is goed op koers om Pete Sampras se rekord te ewenaar.

Die Amerikaner het tussen 1993 en 1998 ses keer die jaar as die voorste speler afgesluit.

“Sampras is een van my helde en ek wil baie graag sy rekord ewenaar. Dit is ongetwyfeld een van die taaiste prestasies in wêreldsport,” het Djokovic in ’n onderhoud gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mad Mike die Rhodesiër ·

Nog ‘n trein wat naby aan die einde van sy stoom is… En sy spel is ‘n groot grap deesdae…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.