SA se Spele-aanslag begin op die sokkerveld

Argieffoto (theweek.com)

Argieffoto (theweek.com)

Agt medaljes… Dit mag miskien nie na baie klink nie, maar Suid-Afrika kan dalk net in Rio de Janeiro hul grootste oes medaljes sedert die land se terugkeer na die Olimpiese Spele in 1992 huis toe bring.

In Londen het die Suid-Afrikaanse atlete die ses medaljes van 2004 in Athene geëwenaar.

Maar kyk ʼn mens na die beroepswedders, lyk dit tóg of Suid-Afrika nog ʼn medalje of twee kan losslaan wat nie algemeen verwag word nie.

Die Spele begin Woensdag (al is die amptelike opening eers Vrydag) en Suid-Afrika se twee sokkerspanne speel albei – die vroue word volgens beroepswedders as die tweede swakste span beskou met Zimbabwe as die swakste.

Die SA vroue speel teen Swede, terwyl die mans se eerste wedstryd Woensdag teen die gasheerland Brasilië is.

Die mans se gouemedalje-wenkans is 66/1 en die telling teen Brasilië word as 0-3 voorspel.
Verskillende, redelik gesaghebbende, mediavoorspellings meen Suid-Afrika sal slegs tussen vyf en sewe medaljes wen. Nie ʼn enkele een van die sewe beskou Wayde van Niekerk as ʼn wenner in die 400 m nie. Almal is dit egter eens dat hy wel ʼn medalje sal wen, hetsy dit silwer of brons is.

Die enigste kans op ʼn Suid-Afrikaanse goue medalje, volgens die menings, is Caster Semenya in die 800 m vir vroue.

Die beroepswedders beskou egter ook vir Van Niekerk, saam met Semenya, as moontlike wenners.

Hulle wedpryse dui ook aan dat Chad le Clos (Vrydag, 200 m-vryslag), Cameron van der Burgh (Vrydag in die 100 m-borsslag) en die Blitsbokke (van 11-13 Augustus) silwer behoort te wen en dat Le Clos (Saterdag, 200 m-vlinderslag), die mans in die sculls-roei dubbels en die spiesgooier Sunette Viljoen bronsmedaljes sal wen.

Vrydag trap Lous Meintjies en Daryl Impey hul fietse teen die wêreld se bestes in die padren. Hoewel Meintjies agste in die afgelope Tour de France was, word sy wenkans op ʼn geringe 150/1 geskat en Impey s’n op 200/1.

Die Blitsbokke word deur nie een van die vernaamste “voorspellers” of die beroepswedders ʼn wenkans gegee nie. Hulle behoort volgens al die peilings ʼn bronsmedalje te wen met Fidji en Nieu-Seeland, in daardie volgorde, die spanne wat die eerste twee plekke sal vul.

Die beroepswedders gee die Blitse en die All Blacks egter ʼn gelyke kans om die tweede plek in te neem.

Die manssewes begin Dinsdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mariette Hammann ·

Dis net skokkend dat die afrigter van een ons topatlete, Caster Semenya, nie na Brasilië genooi is nie! SKANDE!!!! SKANDE!!! SKANDE!!!

Mariette Hammann ·

Net jammer Caster Semenya se afrigter is nie genooi om na Brasilië toe te gaan nie. SKANDE!! SKANDE!! SKANDE!!

Kiepie ·

Die mans sokker begin eers Donderdag en nie reeds Woensdag soos in die berig genoem nie. SA speel om 21h00 (SA tyd) op 04 Augustus teen Brasilië in hulle eerste wedstryd.

Lh ·

Net jammer die wereld se beste twee werklike vroue is beide beseer.

Kiepie ·

Suid Afrika se vroue het beslis nie soos die tweede swakste span by die spele gespeel gisteraand nie. Hulle het baie beter gelyk as sommige van die ander spanne wat teen swakker oponente as hulle verloor het. Niemand het hulle seker gesê hulle is veronderstel om so swak te wees nie.

Ouma mix ·

Ek wil net graag weet wane is die openings seremonie van die spele

Kiepie ·

Ouma mix, die opening seremonie begin Saterdag-oggend 01:00 (SA-tyd). So dis of baie vroeg opstaan of wag vir die her-uitsending later die dag (14h35 op SS 4).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.