SA spanne se hoop in Pro14 vervaag

Nóg twee nederlae in die Pro14-reeks die afgelope naweek laat die hoop vervaag dat ʼn Suid-Afrikaanse span weer

Die Cheetahs en die Kings het hul Pro14-wedstryde verloor. Foto: Facebook.

vanjaar die uitspeelrondes van die Top14-reeks kan haal.

Leinster, die heersende kampioen, wat die reeks al vyf keer gewen het, het die Cheetahs met 19-7 geklop, en die Cardiff Blues het die Kings met 26-19 oorwin.

Die Pro14 word voorlopig onderbreek terwyl die laaste twee weekrondes van die Sesnasies-reeks afgehandel word. Vier wedstryde per span wag wanneer eersgenoemde op 22 Maart hervat word.

Die boonste span in elk van die afdelings dring regstreeks tot die halfeindronde deur, en die spanne wat tweede en derde eindig, pak mekaar oorkruis in ʼn uitspeelstryd vir die oorblywende twee halfeindplekke.

Die Cheetahs (tans sesde in Afdeling A), wat verlede jaar die uitspeelronde gehaal het, sal drie van hul oorblywende vier kragmetings moet wen as hulle die topdrie wil haal. Die vangplek is egter dat sowel Connacht as die Cardiff Blues geen verdere punte in hul vier kragmetings moet verdien nie.

Die Vrystaters se oorblywende wedstryde is teen die Glasgow Warriors (voor in Afdeling A), die Ospreys (vyfde in Afdeling A), die Dragons (laaste in Afdeling B) en die Kings (sesde in Afdeling B).

Dus lyk drie seges moontlik, maar dat Connacht en Cardiff geen punte sal verdien nie is weinig meer as blote wensdenkery.

Vir die Kings (sesde in Afdeling B) is sake neusie verby. Behalwe teen die Cheetahs is die wedstryde wat op hulle wag teen Ulster (derde in Afdeling B), die Dragons (sewende in Afdeling B) en die Ospreys (vyfde in Afdeling A).

In dié stadium lyk dit of slegs die Ierse provinsie Leinster (Afdeling B) seker van ʼn plek in die halfeindronde is.

In Afdeling A wag ʼn strawwe stryd tussen Glasgow en Munster om die eerste plek, met Connacht en Cardiff wat mekaar voor die bors vat vir die derde plek.

Benetton Treviso, Ulster en die Scarlets is die sterkste aanspraakmakers in Afdeling A om die eerste uitspeelstryd te haal.

  • Praatjies in die jongste tyd dat die Bulls, die Sharks en die Stormers in die ry staan om by die Pro14-reeks aan te sluit – en die Griekwas en Pumas wat eweneens ʼn staanplekkie oorsee soek – laat ʼn mens wonder oor die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby.

Beteken dit die plaaslike rugbybase het finaal die handdoek ingegooi wat Suid-Afrika se mededingendheid in Superrugby betref?

Meer Suid-Afrikaanse spanne in die Pro14-reeks sal waarskynlik ook finaal die doodsklok vir die eens glorieryke Curriebekerreeks lui.

Die naweek se ander uitslae –

Connacht 46, Ospreys 5; Glasgow Warriors 42, Zebre 10; Benetton Treviso 18, Edinburgh 10; Scarlets 10, Munster 6; Ulster 28, Dragons 15.

Die puntemakers –

Connacht 46 (34) – Drieë: Tom Farrell, Matt Healy, Kieran Marmion (2), Tom McCartney, strafdrieë (2). Doelskoppe: Kyle Godwin (4). Strafdoele: Kyle Godwin (2).

Ospreys 5 (5) – Drie: Matthew Aubrey.

 

Zebre 10 (3) – Drie: Tomasso Costello. Doelskop: Francois Brummer. Strafdoel: Carlo Canna.

Glasgow Warriors 42 (35) – Drieë: Matt Fagerson (2), Chris Fusaro, Stafford MacDowell, Ruaridh Jackson, Tim Swinson. Doelskoppe: Adam Hastings (6).

 

Cardiff Blues 26 (7) – Drieë: Owen Lane, Nick Williams, Olly Robinson, Jordan Harries. Doelskoppe: Jarrod Evans (3).

Southern Kings 19 (7) – Drieë: Dries van Schalkwyk, Mike Willemse, Masixole Banda. Doelskoppe: Werner Pretorius, Masixole Banda.

 

Leinster 19 (12) – Drieë: Conor O’Brien, Adam Byrne, Rory O’Loughlin. Doelskoppe: Adam Byrne (2).

Cheetahs 7 (7) – Drie: Rabz Maxwane. Doelskop: Tian Schoeman.

 

Benetton Treviso 18 (3) – Drieë: Niccolo Cannone, Antonio Rizzi. Doelskop: Antonio Rizzi. Strafdoele: Ian McKinley, Antonio Rizzi.

Edinburgh 10 (3) – Drie: James Johnstone. Doelskop: Jaco van der Walt. Strafdoel: Jaco van der Walt.

 

Scarlets 10 (7) – Drie: Ioan Nicholas. Doelskop: Leigh Halfpenny. Strafdoel: Leigh Halfpenny.

Munster 6 (6) – Strafdoele: Bill Johnston (2).

 

Dragons 15 (3) – Drieë: Taine Basham, strafdrie. Strafdoel: Josh Lewis.

Ulster 28 (7) – Drieë: Jordi Murphy, John Cooney, Marty Moore, Alan O’Connor. Doelskoppe: John Cooney (3), Billy Burns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ek is baie jammer vir die Cheetahs. Ek weet hulle het geen ander keuse gehad as om by die Pro 14 aan te sluit nie na hulle uit die superreeks uit gesit is nie. As hulle nie aan die Pro 14 reeks deelgeneem het nie sou hulle in elkgeval as unie verdwyn het. Maar ek dink nie iemand in SA kyk die Pro 14 wedstryde nie. Ek was altyd ‘n groot Cheetah ondersteuner en selfs ek volg nie die reeks nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.