SA verfbalspan behaal vierde plek in internasionale kampioenskap

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verfbalvereniging (Sanpa) se o-19 span  (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verfbalvereniging (Sanpa) se o-19 span (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verfbalvereniging (Sanpa) se o-19 span het vandeesweek ʼn algehele vierde plek in die Wêreldbekerkampioenskap in Chantilly, Frankryk, behaal.

Dié span, wat afgerig word deur Eugene Jansen van Rensburg, het vroeër sy onderskeie wedstryde teen Duitsland (4-2), Frankryk (2-1) en Rusland (4-0) gewen.

Ná dié onderskeie oorwinnings het Sanpa in die halfeindronde teen Brittanje te staan gekom. Hoewel albei die spanne slegs een punt kon verwerf gedurende die spel, het Brittanje met die eerste prys weggestap danksy reëls wat bepaal dat ʼn wenner aangewys word volgens sy posisie aan die begin van die toernooi wanneer die spanne steeds gelykop is ná oortyd.

Sapa het eindelik teen Noorweë te staan gekom vir ʼn derde plek, maar Noorweë het met 4-0 gewen wat die Suid-Afrikaners ʼn vierde plek in die kampioenskap besorg het.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verfbalvereniging (Sanpa) se o-19 span  (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verfbalvereniging (Sanpa) se o-19 span (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn groot terugslag vir die span, aangesien hulle suksesvol teen Frankryk, Rusland en Duitsland te staan gekom het,” het Paul Grobler, Sanpa se voorsitter, gesê. “Dit was ook die eerste keer in die geskiedenis dat twee spanne gelykop gespeel het ná oortyd.”

Grobler meen ook Sanpa sal ondersoek instel oor hoe die reël om ʼn wenner aan te wys wanneer die spanne gelykop is ná oortyd, regverdiger aangewend kan word.

“Die kampioenskap het die spelers waardevolle lesse geleer wat hulle nooit sal vergeet nie. Dit is die eerste keer dat ʼn o-19 span aan die kampioenskap deelneem. Jansen van Rensburg het ʼn wonderlike werk gedoen om hulle af te rig en ons sien uit daarna om meer van die o-19 SANPA-span te sien,” het hy bygevoeg.

Die span het Maandagaand in Suid-Afrika aangekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Judean Jansen van Vuuren ·

Baie geluk julle!!! Ons hoop net nie julle sport of span moet ook een van die dae getransformeer word nie!

Janine Strydom ·

Ongelooflik trots op julle. Julle het julle harte uitgespeel. Dankie vir die druk van die storie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.