Ses, sewe … Proteas het T20-léwe!

David Miller was in ’n verwoestende bui in die vorige wedstryd. Foto: GB Jordaan.

Duidelik weet die Proteas hoe om te tel. Want in Kaapstad het hulle Pakistan met ses lopies geklop, terwyl hulle dit ’n trappie verder in Johannesburg geneem het om met sewe lopies te seëvier. Indien hulle hierdie telwerk-tendens volhou, behoort hulle vanmiddag op SuperSportpark die finale T20-kragmeting met agt lopies te beklink.

Sodoende sal hulle nie nét hul laerskoolwiskundejuffrou trots maak nie, maar sommer ook elke Protea-ondersteuner. Want om die onvoorspelbare Pakistan – die wêreld se voorste T20-span – in ’n mik-en-mokerreeks te klop, is nie te versmaai nie.

Die feit dat die besoekers laas in 2015 al drie wedstryde in ’n T20-reeks verloor het, behoort die Proteas net nog meer vir vanmiddag se kragmeting aan te spoor.

Voor in die Proteakoor is hul kitskaptein, David Miller.

Die 29-jarige Pietermaritzburg-boorling het ’n stil eendagreeks gehad, maar sy briljante veldwerk in die eerste T20-wedstryd, waar hy ses Pakistani’s na die kleedkamer help terugstuur het – het hom duidelik sy selfvertroue terugbesorg. En almal weet dat wanneer Miller eers vlamgevat het, daar min boulaanvalle ter wêreld is wat sy grenshouvuur kan blus.

Hy het in Johannesburg ’n skitterende 65 van net 29 aflewerings geslaan, waaronder vyf sesse. In die proses het hy twee agtereenvolgende speler-van-die-wedstryd-toekennings opgeraap.

Maar as Miller die kollig gesteel het, dan is Andile Phehlukwayo die bestendigheid vanself.

Kyk, Suid-Afrika het nog altyd veelsydige spelers gehad wat met die beste in die internasionale arena kan saamgesels. Dink net aan Trevor Goddard, Eddie Barlow, Clive Rice, Mike Proctor, Shaun Pollock en Jacques Kallis.

Hoewel Phehlukwayo nog nie heeltemal in dieselfde heldesaal as dié spelers kan sit nie, kan niemand die waarde wat hy tot die span voeg, bevraagteken nie.

Hy is Suid-Afrika se voorste bouler in die reeks. Sy vier paaltjies kom teen ’n gemiddeld van 15.75 lopies per paaltjie, terwyl hy net 7.87 lopies per boulbeurt afstaan. Boonop gryp hy druksituasies met albei hande aan – iets waarvan die meeste Proteas voorheen weggeskram het.

Hy het Sondag op die Wanderers die laaste boulbeurt van die kragmeting geboul, en hoewel hy ’n grenshou van sy eerste aflewering afgestaan het, het hy koelkop gebly om toe te sien dat die Proteas ’n spannende wedstryd wen.

Vir vanmiddag se wedstryd kan Wian Mulder in sy plek kom, bloot omdat die keurders vooraf gesê het hulle wil elke speler in die groep ’n kans gee om te speel. Mulder is die enigste Protea wat nog nie speelkans in die reeks gekry het nie.

Die eerste aflewering word vanaand om 18:00 geboul. Die wedstryd word op SuperSport2 en SABC3 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Die Protea 20/T span het steeds die ou probleem. Hulle maak hoofsaaklik staat op twee of dalk drie natuurlike groot slaners soos Miller en AB en gebruik dan veiliger kolwers om die kolflys so lank as moontlik te kry. Een vermorste losbal wat nie behoorlik gestraf word nie kan die wedstryd op sy kop keer en dit is ‘n situasie waarin geen span wil verkeer nie. Goed gedisiplineerde boulers, groot slaners en puik toegewyde veldwerk is die wenresep in dié formaat.

Frans C ·

ses,sewe en pak. Swak boulwerk,twee baie duur boulbuurte kos Proteas en hul verloor met
27 lopies.Junior Dala se 2 boulbeurte gaan vir 27 lopies en Lutho Sipamla vir 25.
Die 52 lopies was die Proteas se ondergang.Bygesê Andile Phehlukwayo se laaste boulbeurt is ook erg gestraf. Sy laaste boulbeuurt het vir 21 gegaan teenoor 7 gemiddeld in sy vorige 3.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.