Sewes: Blitsbokke begin op wennoot in Londen

(Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Die Blitsbokke het Saterdagoggend op Twickenham in Londen die teleurstelling van verlede se swak vertoning in Toulouse afgeskud toe hulle Argentinië, die nuwe voorloper op die puntelys, met 26-19 geklop het.

Die Blitsbokke was rustyd met 14-7 voor en afgesien daarvan dat hulle hul taktiek verander het, was daar nuwe geesdrif by die spelers te bespeur.

Die Blitsbokke het twee drieë gedruk nadat hulle hul vaart gebruik het om lang skoppe op te volg, want die Argentyne het nie ʼn speler agter die verdedigingslyn gehad om te keer nie.

Ook was die Blitse se hantering en verdediging beter as in hul die afgelope 14 wedstryde, waarvan hulle sewe verloor het.

Die Bokke kom om 14:22 teen Ierland te staan, wat in Toulouse se eindstryd gespeel het.

Die Iere is byna afgebring aarde toe deur Kenia, die vierde span in Groep B, maar ’n doodsnikdrie het die Iere met 17-14 laat seëvier.

Nieu-Seeland het die toernooi stewig ingelui met ʼn oorwinning van 24-19 oor Australië, wat ná Argentinië en die Blitsbokke derde op die puntelys is.

Punte: Suid-Afrika 26 (14): Drieë: Dewald Human, Muller du Plessis, James Murphy, Angelo Davids. Doelskoppe: Ronald Brown (3).

Argentinië 19 (7): Drieë: Tobias Wade, Marcos Moneta, German Schulz. Doelskoppe: Wade (2).

* Ander uitslae: Nieu-Seeland 24, Australië 19; Frankryk 19, Kanada 14; Ierland 17, Kenia 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.