Sharks se byt te veel vir Blues

Dit was weliswaar ’n storie van twee helftes vir die Sharks teen die Blues, maar gedorie, dáái eerste helfte was iets om te aanskou!

Die Sharks het heeltyd in sesde rat gespeel en was deurentyd ’n span op die aanval.

Drieë deur Aphelele Fassi, Akker van der Merwe en Rob du Preez het gesorg dat hulle ’n gemaklike voorsprong van 19-0 teen rustyd opgebou het.

Hulle het in die tweede helfte duidelik na ’n laer rat oorgeskakel en dit het die Blues die geleentheid gegee om terug te kom in die wedstryd.

’n Drie in die 62ste minuut deur Tanielu Tele’a én ’n Sharks-geelkaart het so byna die kat in die tuisspan se hoenderhok losgelaat.

Sterk verdediging deur veral Tyler Paul – wat 14 duikslae uitgevoer het – het egter die Sharks hul voorsprong laat behou en toe Curwin Bosch in die doodsnikke die bal onderskep, was dit die finale spyker in die Blues se doodskis.

Die Sharks gaan vanaand met ’n bonuspunt onder hul kussings slaap ná hul welverdiende oorwinning van 26-7. Volgende week wag daar ’n watertandontmoeting met die Stormers.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Aphelele Fassi, Akker van der Merwe, Rob du Preez, Curwin Bosch. Doelskoppe: Du Preez (3)

Blues: Drie: Tanielu Tele’a. Doelskop: Otere Black

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wessie ·

Nogal opvallend dat Maroela’aners nie belangstel in rugby in ander dele van die land nie!

Marius ·

My span maak dit toe. Baie geluk Sharks – glo in julself en jul kan dit doen!

George van Bloem ·

Ek wonder wat moet Akker nog doen om die erkenning te kry wat hy dubbel en dwars verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.