Skoolwedstryde uitgestel: Hoop en nugter denke nou die wagwoord

Foto ter illustrasie. Foto: Marty Melville/AFP Photo.

Dit is die week van ’n groot interskole-rugbywedstryd en nadat die wêreldwye Covid-19-pandemie verlede jaar gesorg het dat jou hele seisoen in die slag gebly het, kan jy nie wag vir die naweek se tweestryd nie.

Jy is immers ’n matrikulant en hierdie is een van die laaste geleenthede om daardie eerstespantrui – waarvoor jy so hard gewerk het – oor jou kop te trek.

Maar op die vooraand van die wedstryd gebeur dit waarvoor jy die heeltyd in jou agterkop gevrees het: Die positiewe gevalle is besig om toe te neem en jou skool se leierskorps het die moeilike, dog baie verantwoordelike besluit geneem om die wedstryd na ’n later datum te skuif.

“Sport is iets wat vir jong mense nog hoop in hierdie onseker tye gee,” het dr. Henning Gericke Vrydagoggend vir Maroela Media gesê.

En Gericke behoort te weet waarvan hy praat. Hy was die Springbokke se kopdokter toe hulle in 2007 die Web Ellis-trofee in Frankryk omhoog gehou het, terwyl hy ook vroeg in 2019 voorspel het dat die Suid-Afrikaners sterk in die Wêreldbeker-toernooi in Japan sal vertoon. Deesdae staan hy met sukses vir Jake White by die Bulls in Pretoria by.

“Ons leef in tye waar ouers en onderwysers vir kinders hoop moet gee; hulle kyk spesifiek hoe volwassenes teleurstelling hanteer. Daarom is dit belangrik dat ouers hul kinders se teleurstelling moet erken, maar terselfdertyd ook vir hulle leer dat daar groter dinge in die lewe as rugby of netbal is.”

Die gewese Suid-Afrikaanse tennisster John-Laffnie de Jager is deesdae ’n top-sportafrigter wat onder meer vir Tuks in die Varsitybeker help.

Volgens De Jager speel sport ’n ongelooflike belangrike rol in leerders se lewens. “Ongelukkig word baie jong mense se identiteit dikwels daardeur bepaal en dit moet stopgesit word: ’n Sportsoort moenie bepaal wie of wat ’n mens is nie,” sê hy.

Tog beskou hy sport as een van die beste maniere om vir leerders te leer omtrent die lewe en hy meen dat jong sportsterre moet probeer om nie die Covid-19-era as negatief te ervaar nie.

“As jy in hierdie tyd sielkundig sterk kan staan, dink net hoe sterk sal jy wees wanneer ander moeilike uitdagings op jou pad kom. Ons moet ons denkwyse verander – elke keer wanneer spelers op die veld is, moet hulle hul beste gee juis omdat die toekoms so onseker is,” het De Jager gesê.

Hy het verder die erns van verantwoordelike optrede onderstreep. Skoolwedstryde is immers opgeskort, maar dan behoort leerders eweneens belet te word om groot sosiale geleenthede by te woon.

“Persoonlik dink ek dit is beter vir die leerders om sport oor naweke in die buitelug te beoefen as om besige winkelsentrums te besoek. Dit help veel ons neem die een ding weg, maar laat die ander nog toe.”

“Ons moet leer om verantwoordelik te wees,” het Gericke gesê.

“Kom ons gebruik hierdie tyd en te leer om die regte ding te doen. Dit is immers wat integriteit is.”

Dr. Greyling Viljoen, kliniese sielkundige van Pretoria, sê dat die hantering van Covid-19 vir almal onbekende terrein is wat met omsigtigheid hanteer moet word.

Hy sê sport is deel van die lewe, maar dit is nie die lewe nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

Jammer vir die spelers wat hard oefen en uitsien om te kompiteer. Maar baie bly dat daar logiese, regdenkende skole en ouers is wat verantwoordelike besluite neem, gegrond op mediese en statistiese feite. Goeie voorbeeld van leierskap vir baie ander.

Excalibur ·

Al spyt dit ons hoe … Dink aan die opdrag van Sodem & Gemorra … Gehoorsaamheid & Voorkoming is einde beter as Spyt & Hartseer! Die son sal weer skyn oor velde vol sportmalles en skreeuende ondersteuners; dit is net nie nou nie.

Eric ·

Yip so word die leun oor en oor herhaal totdat dit nou n “feitelike waarheid ” geword het en almal se lewens opgefoeter word deur hierdie patetiese twak

MakersMark ·

Ja nee vertel vir die families van 3.5 m mense wat wêreldwyd gesterf het dis ‘n leun. Hospitale lieg ook seker oor oorvol sale en verhoodge aanvraag na suurstof. Grootste leunaars is seker dokters en mediese personeel wat lieg oor mense se afsterwe is hospitale sonder om hul geliefdes totsiens te sê. Hele wêreld lieg net jy ken die waarheid.

Excalibur ·

Eric, soos ‘n ongelowige Thomas moet daar skerlik eers iemand na aan jou deur hierdie pandemie gepynig word sodat jy kan tot voorkoming kan optree … ek bid die hartseer word jou gespaar Beste Stuurman aan Wal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.