Sloane sit slagting van gekeurdes voort

Sloane Stephens – ongekeurd en nou Amerikaanse enkelspelkampioen (Foto: Twitter @SloaneStephens)

Op ʼn Amerikaanse Ope-toernooi waar die voorste gekeurdes se koppe sommer uit die staanspoor gerol het, kry Kevin Anderson Sondagaand (22:00 SA tyd) kans om ook so teen Rafael Nadal te maak.

Hulle kom in die finaal van die mansenkelspel teen mekaar te staan – en sou Anderson wen, sal hy die eerste Suid-Afrikaner wees wat ʼn Grand Slam-enkelspeltitel wen.

Die slagting van gekeurdes het in die eerste ronde begin toe Maria Sharapova die nommer 2-gekeurde, en ook die tweede op die wêreldranglys, Simone Halep, uitgeskakel het; die jongste geval van grotes wat gesneuwel het, was Roger Federer (3) en Karolina Pliskova (1) wat albei in die kwarteind van onderskeidelik die mans- en vroue-enkelspel uitgeskakel is.

Net vier mans wat in die eerste tien gekeur was, het na die laaste 16 toe deurgedring.

♦  Dit was Saterdagaand weer so. Die ongekeurde Sloane Stephens, wat in Junie nog ná ʼn operasie met ʼn beenstut geloop het, het die vrouetitel gewen toe sy Madison Keys, wat slegs 15de gekeur was, in twee stelle met 6-3, 6-0 van die baan gevee het.

Vroeër is Federer deur Juan Martin del Potro (24) in vier stelle in die kwarteind geklop; Pliskova het teen Coco Vandeweghe (20) vasgeval; Venus Williams is in die vierde ronde deur Stephens uitgeskakel; Garbiñe  Muguruza (3) het in die vierde ronde teen Petra Kvitova (13) verloor; Caroline Wozniacki (5) is vroeg-vroeg huis toe nadat sy teen Ekaterina Makarova verloor het … en so kan  jy aangaan.

Daar was ook ʼn hele paar van die wêreld se voorste spelers wat om verskeie redes nie kon deelneem nie. Serena Williams het  tydens die toernooi ma geword; Andy Murray,  die wêreld se tweede beste en tweede gekeurde vir die Ope, het twee dae voor die toernooi  onttrek. Ander sterk aanspraakmakers kon ook nie in vanjaar se Amerikaanse Ope speel nie.

Die verdedigende kampioen Stan Wawrinka (knie-operasie); Novak Djokovic (regterelmboog), wat in 2016 in die eindwedstryd teen Wawrinka verloor het; Kei Nishikori (beseerde gewrig) wat in 2014 in die eindstryd verloor het; en Milos Raonic (gewrig) wat verlede jaar  in die Wimbledonse eindstryd verloor het, was ondermeer afwesig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Le Roux van Blerk ·

Johan Kriek het die Australiese ope gewen in 1980 en 1981 terwyl hy nog n S.A. burger was.

Le Roux van Blerk ·

Johan Kriek het die Australiese Ope in 1980 en 1981 gewen toe hy nog n S.A. burger was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.