Small-Smith bly ’n Cheetah

William Small-Smith. Foto: Facebook.

Die veelsydige agterspeler van die Toyota Cheetahs, William Small-Smith, het sy kontrak met die Vrystaters vir ’n verdere twee jaar verleng.

Hy sal dus in Bloemfontein tot Oktober 2021 bly.

Small-Smith is ’n veelsydige agterspeler wat al sukses saam met die Blitsbokke en die Junior Springbokke gesmaak het. Sy vermoë om druk te hanteer en sy leierskapvaardighede maak van hom ’n aanwins vir enige span.

Tot dusver het hy al 61 wedstryde vir die Cheetahs gespeel – waaronder 16 Curriebeker-, 13 Super Rugby- en 32 Pro14-kragmetings.

“Om my kontrak te verleng was eintlik ’n maklike besluit. Ek het die skuif na die Cheetahs gemaak om as mens en speler te groei en dit is presies wat gebeur het,” het Small-Smith in ’n mediaverklaring gesê.

“Boonop is ek werklik opgewonde oor die stand van sake by Vrystaat Rugby. Ons is nog weliswaar in ons babaskoene by die Pro14 – dit is skaars ons tweede seisoen – maar ek glo ons is ’n span wat binne die volgende paar jaar kan meeding om die beker te wen.”

Small-Smith het vantevore vir die Bulls in die Superrugby-kompetisie uitgedraf, maar is bly oor sy skuif na die Cheetahs.

“Ek glo daar wag ’n blink toekoms op die span en dit is ’n voorreg om my kontrak te verleng. Ek wil graag aanhou om waardevolle bydraes tot die Cheetahs se sukses te lewer. Uiteindelik is die doelwit om enige span op enige gegewe dag te kan klop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kiewiet ·

Dis nou in ware Cheetah. Met sulke spelers in die span gaan die Cheetahs weer op die wen pad kom.

Anne-Marié ·

Dankie William. Jy is ‘n talentvolle speler en ‘n wonderlike spanman wat altyd alles gee. Jy hol nie weg agter Euros aan nie. Ek sal ‘n trotse Cheetah bly met spelers soos jy in die span. Dankie vir jou lojaliteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.