Só vaar SA’ners by Olimpiese Spele

Swem:

Chad le Clos in aksie. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Benewens Tatjana Schoenmaker se spogprestasie in die eindronde van die 100 m-borsslagitem (waar sy die silwer medalje ingeoes het), het Chad le Clos ook vir sy teleurstellende uitdunronde vergoed deur die derde vinnigste kwalifiserende tyd vir die eindstryd van die 200 m-vlinderslagitem op te stel.

Die 29-jarige Le Clos sal nou môreoggend om 03:49 (SA tyd) sake om die goue medalje uitspook, terwyl Schoenmaker en Kaylene Corbett se 200 m-borsslagveldtog ook begin.

Erin Gallagher (100 m-vryslag) en Martin Binedell (200 m-rugslag) sal ook môre in aksie wees.

Branderplankry:

Bianca Buitendag het saam met Tatjana Schoenmaker gesorg dat die Suid-Afrikaanse vlag trots by die Olimpiese Spele wapper. Foto: Twitter.

Hoewel dinge nie heeltemal volgens plan vir Suid-Afrika se Bianca Buitendag in die eindstryd teen die VSA se Carissa Moore verloop het nie, sal haar Olimpiese avontuur vir ’n reuseglimlag sorg.

Die 27-jarige Kapenaar het die eerste silwer medalje vir branderplankry in die geskiedenis van die Olimpiese Spele ingeoes, terwyl sy ook met gesoute teenstanders soos Stephanie Gilmore en Caroline Marks in haar opmars na die eindstryd afgereken het.

Sewesrugby:

In sewesrugbynuus sal die Blitsbokke nóg ’n verdere vier jaar moet wag om op hul bronsmedaljevertoning in Rio de Janeiro te verbeter nadat hulle vandag in die kwarteindstryd van die Olimpiese Spele deur Argentinië uitgeskakel is.

Die begeesterde Suid-Amerikaners, wat vir die grootste gedeelte van die wedstryd met net ses spelers moes klaarkom te danke aan Gaston Revol se rooi kaart, het die kragmeting uiteindelik met 19-14 gewen.

Kurt-Lee Arendse op die aanval vir die Blitsbokke. Foto: Anton Geyser/SASPA.

“Ons het nooit regtig die kans gekry om die bal te laat loop nie en ons het toegelaat dat Argentinië hul stempel op die wedstryd afdruk,” het Shakes Soyizwapi (Blitsbok-kaptein) gesê.

“Ons is teleurgesteld en ons het onsself in die voet geskiet deur simpel foute te maak en nie as ’n span saam te speel nie.”

Die Blitsbokke speel môre om 03:30 (SA tyd) teen Australië vir ’n geleentheid om vir die vyfde plek by die Spele uit te speel.

Manshokkie:

Suid-Afrika se manshokkiespan het met 9-4 teen België verloor. Die Europeërs het weliswaar amper tien doele aangeteken, maar dit is nie aldag dat die wêreld se voorste hokkiespan vier doele afstaan nie.

  • Medaljes:

Met Suid-Afrika se twee silwer medaljes beklee die land nou die 33ste plek op die medaljepunteleer.

Japan (tien goud, drie silwer en vyf brons) is eerste, gevolg deur die VSA (nege goud, agt silwer en agt brons) en China (nege goud, vyf silwer en sewe brons).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Johann, skuus maar dis ‘n simpel stelling om te maak: “dis nie aldag dat die wereld se voorste span 4 doele afstaan nie”, so asof ons nou beter moet voel daaroor??? Wat soek ‘n span daar wat amper 10 doele afstaan!!!
Dis soos die simpel ding wat sportmanne kwytraak as hulle 76 ste in ‘n item kom: “dit was vir ons ‘n leer ondervinding, ons het baie daarby gebaat om met die bestes te kon skouers skuur (en ons agterente te sien)…” Is JY nie veronderstel om een van die BESTES te wees as jy aan die Olimpiese Spele deelneem nie?
Watse kriteria is daar dan vir die deelname van iemand/’n span? Miskien moet ons dit dan eerder Olimpiese Speletjies begin noem.
Lekker dik, ekke!

piet ·

Jy’s absoluut reg. Van ons spansporte en idividuele deelnemers hoort definitief nie in die Spele nie, hulle is gewoon nie op wereldstandaard nie. Jy kan dit se van die sokker en hokkiespanne maar die heel ergste is die waterpolo span. Die arme sukkelaars verloor met gemiddeld 20 doele per wedstryd. Nee, regtig man, dis ‘n vernedering en dien geen doel nie. Stuur eerder net tot 50 sportmense wat werklik ‘n kans staan om vir medaljes mee te ding en nie hul naam gaan likkewaan maak nie. As jy net-net kwalifiseer vir die Spele beteken dit nie dat jy gaan meeding om ‘n medalje nie. Jy moet darem inderdaad een van die bestes in die wereld wees met ‘n kans op ‘n medalje. dit kan nie goedkoop wees om ‘n span oor te stuur nie, die geld kan beter aangewend word op ander dinge.

Niklaas ·

Gaan die waterpolo spanne ooit weer meeding in enige toekomstige Olipiese spele ? Hulle swem te lekker heen en weer daar , en is verbysterd oor die punte wat teen hul opgestapel word. Selfs Andorra se span gaan hul met gemak klop.Dis darem iets waaroor ons die koppe in skaamte kan laat sak. Daai tellings hoort by krieket. Stuur dan maar eerder minder deelnemers , of probeer byvoorbeeld meer langafstand atlete stuur (as hul kwalifiseer ).

piet ·

Ek dink hulle swem net en vergeet dat hulle eintlik besig is om waterpolo te speel altans dis soos dit lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.