Só vaar SA’ners by Olimpiese Spele

JC Pretorius in aksie vir die Blitsbokke. Foto: Twitter.

Sewesrugby:

Die Blitsbokke het vyfde by die Spele geëindig nadat hulle vandag vir Australië (22 – 19) en die VSA (28 – 7) geklop het.

Die Suid-Afrikaners is egter gister op teleurstellende wyse deur Argentinië in die kwarteindstryd van die Spele uitgeskakel.

Fidji is die gouemedaljewenners nadat hulle vir Nieu-Seeland met 27 – 12 in die eindstryd gewen het.

Swem:

Tatjana Schoenmaker het nóg ’n Olimpiese rekord verbeter toe sy haar 200 m-borsslaguitdun in ’n tyd van 2:19:16 gewen het. Kaylene Corbett se poging van 2:22:48 was die vierde beste tyd in die item.

Kaylene Corbett. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Die halfeindstryd begin môre om 04:54 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Dan het Erin Gallagher (54,75 in 100 m-vryslag) en Martin Binedell (1:58:47 in 200 m-rugslag) nie vir die volgende ronde gekwalifiseer nie. Gallagher het ook saam met Aimee Canny, Rebecca Meder en Duné Coetzee die Afrika-rekord in die 4×200 m-vryslagaflositem tot 8:01:56 verbeter, maar hulle kon nie na die volgende ronde deurdring nie.

Matthew Sates, wat vandag sy 18de verjaardag vier, het vir die halfeindstryd van die 200 m‑ individuele wisselslag gekwalifiseer.

Vroeër het Chad le Clos vyfde in die 200 m-vlinderslag geëindig. Kristof Milak, die jong Hongaarse swemsensasie, het die Olimpiese rekord in die item tot 1:51:25 verbeter; die Suid-Afrikaner se tyd was 1:54:93.

Fietsry:

Ashleigh Moolman-Pasio en Stefan de Bod het onderskeidelik agtste en 12de in hul items geëindig.

Waterpolo:

Die Suid-Afrikaanse vrouespan het met 21 – 1 teen Kanada verloor.

Sokker:

Die o. 23-mans moes hul wedstryd teen Mexiko wen om hul veldtog aan die gang te hou, maar hulle het met 3 – 0 verloor. Die Suid-Afrikaners het vroeër teen Japan en Frankryk vasgeval.

Hokkie:

Nederland se vrouehokkiespan het Suid-Afrika met 5 – 0 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.