Só vaar SA’ners by Olimpiese Spele

Tatjana Schoenmaker klief deur die water. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

Swem:

In die swembad het Tatjana Schoenmaker vir die blinkste vertoning gesorg toe sy met haar spogtyd van 1:05:07 min vir die eindstryd van die 100 m-borsslagitem gekwalifiseer het.

Die 24-jarige Tukkie-swemmer het Sondag die Olimpiese rekord in hierdie item na 1:04:82 verbeter.

Intussen sal Chad le Clos sy sokkies moet optrek indien hy weer op die podium aan die einde van die 200 m-vlinderslagaksie wil staan. Die 29-jarige swemmer was vyfde in sy uitdunronde en sy tyd (1:55:96 min) is die stadigste onder die swemmers wat vir die halfeindstryd gekwalifiseer het.

Rebecca Meder en Ethan du Preez het sewende en agtste in hul onderskeie items klaargemaak.

Schoenmaker is môre weer om 04:17 in aksie, terwyl Le Clos sy bes om 04:35 sal doen om die eindstryd te haal.

Sewesrugby:

Die Blitsbokke is goed op dreef in Tokio. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke is op koers om eerste in hul groep te eindig nadat hulle met Ierland (33-14) en Kenia (14-5) afgereken het. Hulle speel môre in hul laaste groepwedstryd teen die VSA.

Die wedstryd begin om 04:30.

Vrouehokkie:

Suid-Afrika se vrouehokkiespan het vroeg die voortou teen Groot-Brittanje geneem danksy ’n doel deur Nicole Walraven.

Daarna was dit egter eenrigtingverkeer soos wat die Britte vier onbeantwoorde doele aangeteken het om met 4-1 te wen.

Die manspan speel môre om 11:30 teen België.

Branderplankry:

Bianca Buitendag in aksie. (Foto: Olivier MORIN/AFP)

Bianca Buitendag het vir ’n opskudding gesorg in die heel eerste Olimpiese branderplankry-kompetisie nadat sy die Australiese sewemalige wêreldkampioen, Stephanie Gilmore, laat les opsê het.

Sy sal môre in die kwarteindstryd teen Portugal se Yolanda Hopkins golwe jaag.

Driekamp:

Dit was ’n hartseer dag vir Suid-Afrika se Henri Schoeman wat vyf kilometer vóór die eindstreep die handdoek moes ingooi.

Schoeman, wat in Rio de Janeiro die brons medalje ingeoes het, sukkel al vir ’n geruime tyd met knie- en enkelbeserings en dit het uiteindelik sy tol geëis.

Hy was onder die voorste groep deelnemers ná die swem- en fietsryafdelings.

Bergfietsry:

Alan Hatherly het hom uitstekend van sy taak gekwyt om agtste klaar te maak.

Groot-Brittanje se Tom Pidcock het die roete van 28,25 km in 1:25:14 uur voltooi om die goue medalje te wen; Hatherly se tyd was 1:26:33.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.